Naelskraap vir Engelbrecht

0
660
Tyson Engelbrecht (12) en Ian Topliss jaag saam oor die eindstreep tydens die eerste MX3-wedren van die laaste ronde van die Nasionale Motocross-kampioenskap in Johannesburg. FOTO: BRODALKA PHOTOGRAPHY

Die motorfietsryer van Bloemfontein, Tyson Engelbrecht, moes Saterdag met die tweede plek tevrede wees tydens die laaste ronde van die 2019-Suid-Afrikaanse Motocross-kampioenskap in Johannesburg.

Engelbrecht was ‘n sterk aanspraakmaker op ‘n tweede nasionale titel in die MX3-klas, maar Ian Topliss het vanjaar Imet die louere weggery.

Topliss het Engelbrecht tydens die eerste wedren met slegs 0.01 sekondes na die eindstreep geklop om 25 punte aan te teken.

Tydens die tweede wedren het Topliss Engelbrecht weer eens naelskraap getroef met ‘n volle 50 punte in dié klas. Die twee naaswennerplekke het daartoe gelei dat Engelbrecht met 44 punte moes tevrede wees.

Craig Kurger was derde in die eerste wedren en vierde in die volgende wedren. Brett Bircher was op sy beurt vierde in die eerste wedren en derde in die tweede wedren. Albei moes met 39 punte tervrede wees.

Engelbrecht is egter ná sy baie goeie seisoen as die 30+ nasionale kampioen gekroon.
Engelbrecht het aan Bloemfontein Courant gesê hoewel dinge nie volgens plan verloop het nie, is hy nietemin heel tevrede met sy seisoen.

“Ongelukkig het dinge nie heeltemal volgends plan verloop nie. In die eerste wedren het ek met 0.01 sekondes verloor. Daar was absoluut niks in die wedren nie.

“In die tweede wedren het ek ook tweede geëindig en was tweede algeheel vir die dag. Ek het ten minste die nasionale titel vir 30+ gewen, en die MX3-kampioenskap het ek met ‘n paar punte in die derde plek geëindig.

“Dis was nie hoe ons die seisoen wou afsluit nie, maar ek is tevrede met hoe die seisoen verloop het. Dit is iets om op voort te bou vir aanstaande jaar.”

Die naweek vind die sesde ronde van die MSA Vrystaat-streekskampioenskap op die Tempe Motocrossbaan plaas. – MORGAN PIEK