Nachtrein maak local weer lekker

0
375
Neil Nachtrein FOTO: STEFAN BURGER

Plaaslike Afrikaanse sanger, Neil Nachtrein, is reeds vir ses jaar in die musiekbedryf en wou nog altyd kunstenaar wees. Nachtrein het op hoërskool begin kitaar speel en ná skool was hy vir ‘n jaar Engeland toe waar hy begin het om oop mikrofoonaande te hê.

“Toe ek Afrikaanse lirieke, nie net gewone Afrikaans nie maar suiwer Afrikaans, ontdek, wou ek mense oortuig dat daar goeie musiek met goeie Afrikaanse lirieke is,” sê Nachtrein. Sy grootste inspirasie in die Afrikaanse musiekwêreld is Gert Vlok Nel, wat volgens Nachtrein ook goeie Afrikaanse liedjies skryf.

Sy tweede album is nou beskikbaar en hy vertel aan Bloemfontein Courant dat dit sy tweede album is, maar dit vir hom soos sy heel eerste voel omdat hy baie harder gewerk het om dit te maak. Die titel van die album is Op plekke waar ons eens was en sy gunstelingliedjie op die album is “Niks is meer ons eie”.

Die album bestaan uit 11 liedjies en die inspirasie agter die album was herinneringe uit die ou dae.
“As liedjieskywer observeer mens baie en dit inspireer jou om liedjies te skryf. Ek is ‘n voltydse kunstenaar en die ervaring is vir my baie lekker,” voeg hy by.

Die bekendstelling van Nachtrein se nuwe album word op 21 en 22 November in die Planetarium op Naval Hill, Bloemfontein, gehou.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za