Naasteliefde begin tuis

0
1423
Danie Crause se oefengroep wat die kos ingesamel het.

Atletiekafrigter by Willem Postma, Danie Crause, en sy oefengroep, die WP Langasems, het ‘n passie vir die mense in hul gemeenskap, veral vir die leerders wat swaarkry weens die finansiële druk waaronder hul ouers verkeer.

Dié barmhartige Samaritaan het begin om ekstra atletiekafrigting aan te bied en instede daarvan om geld te vra, leerders se ouers uitgedaag om welwillendheidsorganisasies soos onder meer die voedelskema by die skool te ondersteun. Hy en die WP Langasemoefengroep het verlede jaar begin met dié inisiatief en was tot dusver baie suksesvol.

“‘n Mens is so gou om ander liefdagheidsorganisasies te ondersteun voordat jy in jou eie gemeenskap uithelp. Ek dink dit is waar mens moet begin,” sê Crause. Die voedselskema maak voorsiening vir minderbevoorregte kinders. Hy vertel, “Ons het verlede jaar ses weke voordat die eksamen begin het, nie-bederfbare kos ingesamel vir die vakansie. Ons het binne vyf weke meer as R15 000 se kruideniersware, babadoeke, vleis en ander noodsaaklikhede vir hulpbehoewende gesinne ingesamel.”

Volgens Crause hoop hy dat hierdie inisiatief iets sal wakkermaak in ander skole en dat hulle dieselfde sal doen. Hoewel hy nie persoonlik betrokke is by die voedselskema nie, bly dit vir hom ‘n groot beloning om sy omgee-passie uit te lewe deur as atletiekafrigter ‘n bydrae te lewer en leerders te inspireer om te help waar hulle kan.

Crause en sy WP Langasem-oefengroep het groot planne in die mou en beplan om R50 000 vir die voedselskema by die skool in te samel. Crause is vol moed dat daar besighede en mense in die gemeenskap sal wees wat hul inisiatief by Willem Postma sal ondersteun.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za