‘n Woordryke vier jaar

0
361

Hierdie Storiesmous vandag is my 200ste rubriek. Teen 350 woorde elke week sedert ek op 2 April 2015 begin het, beteken dit ek het die afgelope 4 jaar 70,000 woorde geskryf.
Toe ek iewers lees dat Tolstoi se War And Peace 587,287 woorde bevat, het ek maar die sjampanjeglase teruggepak.

Getalle en datums is altyd ‘n lekker tema. Ons herdenk oor drie weke Chuck Norris se 80ste verjaardag. (JA, 80!) Maar vir hom moet jy steeds ligloop. As Chuck middelvinger wys, sê hy vir jou jy’t nog 1 sekonde oor om te lewe. Hulle het uitgewerk dat daar 1,242 items in ‘n gewone, tipiese sitkamertjie is waarmee hy jou kan uitskakel!
Chuck deel sy geboortejaar, 1940, met ‘n paar ander bekendes.

Hulle word almal 80 vanjaar. Cliff Richard (“Happy to be a bachelor boy”), Nancy Sinatra (“These boots are gonna walk all over you”), Tom Jones (“Forgive me Delilah I just couldn’t take any more”), en dan 1 van my groot helde, Al Pacino, (“Say hello to my little friend!”)
Net meer as 50 jaar gelede, op 20 Julie 1969, het die 1ste maanlanding plaasgevind. Wat dalk minder bekend is, is dat al 3 daardie Apollo 11-bemanningslede, Neil Armstrong, Buzz Aldrin en Michael Collins, ewe oud was. Hulle is almal in 1930 gebore. Collins en Aldrin, wat nog lewe, word 90 vanjaar.

2 van die anker-ysters van die silwerdoek deel ook hierdie geboortejaar met die maan-span. Albei Clint (Go-ahead-make-my-day) Eastwood en Sean (The-name-is-Bond) Connery word vanjaar 90. My gunsteling-aanhaling van Connery, nie as James Bond nie, maar as Jim Malone in The Untouchables, is daar waar hy beskryf hoe Al Capone gevang kan word: “They pull a knife, you pull a gun. He sends one of yours to the hospital, you send one of his to the morgue. That’s the Chicago way!”

En dan word Warren Buffet ook vanjaar 90. (Geboortedatum: 30 Augustus 1930.) ‘n Belegger moet nooit te haastig wees nie, is sy tydlose raad. “You can’t produce a baby in one month by getting nine women pregnant.”

Albé Grobelaar