‘n Woordreis van ‘n ander aard

0
898

Ontsnap na die onbekende met ‘Woordvlug’, ‘n samevoeging van kreatiewe kreature wat in laat 2014 uitgebroei het. Hierdie nuwe projek styg amptelik 25 Februarie 2015 in Bloemfontein op en land 20 en 21 Maart 2015 onderskeidelik op Bethlehem en Clarens.

Op die ‘vlugspyskaart’ is digkuns en woordvleg, oudiovisuele musiek, lewendige kuns, akoestiese musiek (70% Afrikaans, 20% Engels, 10% onverstaanbaar).

Soos ‘n onverwagse herfssomerwinterwind vervleg woorde, kuns en musiek tot ‘n lente van verrassings – soms soet, baie bitter, lekker en sonder ‘n aangemaakte kaassous.

Neem ‘n woordvlugtog saam met die woordvlieërs Hein Griesel, Elzette Boucher, Mari-Louise du Plessis (Mira), Marius Jansen van Vuuren, Cyril Viloen (Generaal Dirk), Louis de Villiers (Minister Vanvo Kol) en Andrew Cooks. Daar is die pianis en kriewelrige kunstenaar, Mira. Sy moker jou sielkundig in die maag met haar spookagtige komposisies en grillerige visuele ontbloting. Griesel lees van sy donker dekadente Dorper-gedigte voor en Boucher deel van haar indrukke en ononderdrukte ondervindings wat sy vasink. Die grootbek-kunstenaar Jansen van Vuuren teken, verf en spuit sy eie en jou struggle teen die naaste muur of jou hemp (as jy wil). Generaal Dirk, die gewroegde woordesanger gewapen met kitaar, tesame met Minister Vanvo Kol, op sy bas, vuur note na die ore oor liefde, landloosheid en die soeke na sin.

Die bedoeling is dan ook om die woordvlugryk uit te brei met plaaslike talent wat na dieselfde ontvlugting hunker. ‘n Gaskunstenaar word by elke vertoning betrek en 10 na 15 minute word toegelaat in die oop afdeling (open mic) vir woordvlugtelinge wat hul note of woorde wil deel.

Woordvlug se eerste optrede is op 25 Februarie 2015 Moerby-galery in Bloemfontein (051-430-1142), op 20 Maart by Die Punt in Bethlehem (Suzanne: 082-783-2757) en op 21 Maart by die Artists Café in Clarens (Wolfgang: 083-000-0746/ wolfgangb@telkomsa.net). ‘n Volledige program kan ook by www.vulture-aasvoelclub.com bekom word.

Al die optredes begin om 19:00 en duur 90 min. Toegang is vanaf R40.

Vir meer besonderhede kontak woordvlugvoerder: Hein Griesel by 084-559-8991.