‘n Wêreldfliek met ‘n Bloem-konneksie

0
546
Peter Paul Muller as Bram Fischer en Antoinette Louw as Fischer se vrou, Molly in die fliek An Act of Defiance.

Dit sal geen verrassing wees as Bloemfonteiners hierdie naweek na die fliekteaters stroom om te gaan kyk na die fliek “An Act of Defiance”, wat more landwyd in Ster Kinekor- en Nu Metro-teaters uitgereik word nie.
Nie net handel die fliek oor, Bram Fischer, van die Rosestad se mees geliefde seuns nie, maar ‘n ander belangrike uitvoerproduk van die stad, die aktrise Antoinette Louw, vertolk die rol van Fischer se vrou, Molly, in die fliek.

Antoinette Louw in ‘n toneel uit die fliek An Act of Defiance.

Nelson Mandela is ‘n wêreldbekende ikoon van die laat 20ste en vroeë 21ste eeu, maar was dit nie vir die heldhaftige stryd van ‘n regsspan aangevoer deur die Afrikaanse rewolusionêr Bram Fischer nie, was dit waarskynlik nie die geval nie. An Act of Defiance is die verhaal van hoe Mandela tydens die Rivonia-verhoor in 1963 van die doodstraf gered is.
Louw sê om deel te wees van die wêreldbekroonde fliek was vir haar ‘n baie emosionele ervaring, veral aangesien dit handel oor een van Bloemfontein se grootste helde.
“Ja, ek het al die navorsing gedoen wat ek kon en het baie na aan die mense gevoel. Maar die feit dat ek en Bram van dieselfde stad af kom, het die verbintenis sterker gemaak. Dit was vir my baie belangrik om eer te gee aan die mense wie hy en Molly was.
“Aan die begin het ek nie veel oor Bram geweet nie, behalwe dat hy ‘n advokaat was, en ek dink baie Bloemfonteiners weet ook maar min van hom. Kykers sal ‘n ander deel van sy storie sien wat nog nooit vertel is nie.
“Dit sal ook meer verduidelik hoekom hy die keuses gemaak het wat hy het. Ons kan so, so trots wees op hierdie saggeaarde, brawe Bloemfonteiner. Eenkeer ‘n Bloemfonteiner, altyd ‘n Bloemfonteiner,” het Louw skertsend gesê.
Louw was van graad 10 tot 12 in die Hoërskool-Sentraal, waarna sy haar dramagraad met lof by Kovsies verwerf het. Hierna is sy oorsee om ‘n akteursloopbaan te volg. Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy ‘n rol in 7de Laan vertolk. Van die ander projekte op haar kerfstok sluit in die rolprent Die Laaste Tango en die TV-drama Swartwater.
Die regie van An Act of Defiance, wat in 2016 verfilm is, is behartig deur Jean van de Velde en die res van die rolverdeling sluit in: Peter Paul Muller (Alles is Liefde) as Bram Fischer, en Sello Motlong (Generations) as Nelson Mandela,
An Act of Defiance, wat in 2017 die openingsfliek by die Kaapstadse Internasionale Filmfees was, het sedert sy bekendstelling behoorlik die toekennings ingeryg:

Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za