‘n Tuiste vir poppe in die Rosestad

0
573
Anita Strydom, wenner van die gelukstrekking tydens een van die die popversamelaars se byeenkomste.

Om poppe te versamel blyk nie kinderspeletjies te wees nie, maar ‘n groepie van 19 dames wat deel is van die International Dolls Collecting-Sphere, doen dit met grasie. Hulle is dit eens dat poppe, veral ouer en antieke poppe, in bewaring moet bly vir die nageslag.

Dié groep versamelaars van die Rosestad het groot planne vir Augustusmaand en het besluit om gedurende Vrouemaand ‘n uitstalling in samewerking met die Nasionale Museum te hou, werksessies oor poprestourasie en ander interessante pop-dinge aan te bied.

Een van die versamelaars, Betsie Roux, vertel dat die groep Facebook gebruik om op die hoogte te bly van die identifisering van poppe, spesifiek antieke poppe. Sy verduidelik dat die doel van die groep is om bewustheid te skep onder die breër gemeenskap oor die versorging en bewaring van antieke poppe vir die komende geslagte.

Sy het aan Bloemfontein Courant vertel dat sy sowat 20 jaar gelede poppe begin versamel het. “My popversameling bestaan uit 350+ poppe en baie blik- en miniatuur-speelgoed.” Haar belangstelling in die versameling van poppe het al van kleins af begin. Sy is in die vyftigerjare gebore en haar oupa het vir haar ‘n “Betsy Wetsy-pop” as geskenk gegee. Die spesifieke pop is deel van haar versameling. “Ek is ook al vir meer as 25 jaar ‘n versamelaar van antieke ware en my poppe vorm deel hiervan.”

Roux sê verder dat baie mense haar gekontak het vir die herstel van poppe sedert die bemarking van hul groep in die media. “Ons groep is ook bevoorreg om twee poprestoureerders te hê.” Sy sê daar is ook ‘n pophospitaal in Bloemfontein en die eienaar, Adi Botha, spesialiseer in die herstel van bisque (porselein)-poppe. Sy sê vir haar is die gunstelingpoppe in haar versameling die Shirley Temples. Dit is moeilik om hierdie poppe in Suid-Afrika te vind. Mense is welkom om haar te kontak vir popherstelwerk, sy en die groep help graag.

Sy verduidelik verder dat die groep pop- en speelgoedversamelaars van Bloemfontein mekaar vir meer as vyf jaar ken en graag hul kennis en vaardighede op sosiale media deel. Roux sê wanneer die groep byeenkom, hulle jare se ondervinding in die maak, herstel en versamel van poppe deel. Dit is ook ‘n geleentheid waar hul pragtige poppe uitgestal word. Popversamelaars deel dieselfde passie en woon geesdriftig verskeie geleenthede en werksessies by.

“Ons is van plan om kwartaalliks bymekaar te kom en beplan ‘n Alzheimer-projek vir Desember 2019 wanneer ons pasiënte in hospitale en sorgsentrums gaan besoek om hulle met poppe te bederf,” sê Roux.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za