‘n Trotse tweekuns vir die universiteit

0
404

Vir die tweede agtereenvolgende jaar het ‘n oud-Kovsie die Absa L’Atelier-kompetisie, Suid-Afrika se mees gesogte kunskompetisie, gewen.
Pauline Gutter, wat in 2003 haar BA Beeldende Kunste-graad aan ons universiteit voltooi het, is die tweede Vrystater om die kompetisie, wat in sy 28ste bestaansjaar is, te wen. In 2012 het Elrie Joubert, nog ‘n voormalige student van ons Departement Beeldende Kunste, die kompetisie gewen.
As algehele wenner ontvang Gutter ‘n kontantprys van R125 000 en ses maande se verblyf in die kunswoonstel Cité Internationale des Arts in Parys, Frankryk.
Haar weninskrywing, Die huweliksaansoek, is `n interaktiewe werk bestaande uit `n 1.8-m hoë assosiasieryke obelisk, `n gegrafeerde plaatjie, `n klein TV-monitor en `n plaastelefoon se- handstuk. Die video is van `n bul wat in die drukgang staan terwyl sy saad getap word. Die kyker word uitgenooi om voyeuristies in te luister. Die klankbaan van die teks is saamgestel uit stellings en uitlatings wat deur deelnemers in die program “Boer soek `n Vrou” gemaak is. Die vraag wat die werk uitlig is: “kies `n boer sy toekomstige vrou op dieselfde manier waarop hy sy stoetvee aanteel?”
Pauline sê haar verbintenis met die plaas, beginselvaste ouers en sterk familiebande dien as inspirasie vir haar werk. Om uiting aan haar kunstenaarstem in `n hedendaagse omgewing te gee, is om `n fyn waarnemer van die samelewing te wees, sê sy. “Dis om vrae te vra wat die kyker op ‘n prikkelende wyse konfronteer.”
Haar raad aan opkomende kunstenaars is: “harde werk, volhoubaarheid en betrokkenheid. Hou aan soek totdat jy die plek vind waar jy inpas.”