‘n Tekort aan maskers vir TB-behandeling hou gesondheidsrisiko vir VS in

0
1257

CHRISTAL-LIZE MULLER

Die Vereniging vir Staatsamptenare in die Vrystaat sê plaaslike gesondheidsowerhede is onverantwoordelik om nie N95-maskers aan personeel van die Moroka-hospitaal in Thaba Nchu se veelvoudige middelweerstandige (MDR) tuberkulose-eenheid beskikbaar te stel nie. VSA-bestuurder, Gerhard Koorts, sê verpleegpersoneel weier om pasiënte te verpleeg sonder die voorgeskrewe maskers uit vrees dat hulle die veelvoudige middelweerstandige TB kan opdoen. Dit kom nadat hospitaalbestuur glo Maandag opdrag gegee het dat personeel ander maskers, wat minder beskerming bied as die N95-maskers, as plaasvervanger gebruik. Die N95-masker word deur die Wet op Beroepsgesondeheid en Veiligheid voorgeskryf vir TB-eenhede. Koorts sê die beweerde gebrek aan die maskers hou ‘n gesondheidsrisiko vir hospitaalpersoneel in en ander mense waarmee hulle in aanraking kom.

Hy sê die departement se uitvoerende hoof, David Motau, het tot die einde van die dag om te reageer op die VSA se versoek dat die N95-maskers beskikbaar gestel word. As die departement nie reageer nie plaas die VSA sy hoop op die departement van mannekrag om die gesondheidsdepartement te verplig om onmiddellik die N95-maskers beskikbaar te stel.

christal-lize@centralmediagroup.co.za