‘n Sportman om mee rekening te hou

0
570
Chris Dednam, sy vrou, Alichia, en hul twee seuns, Aiden en Charltin.

Jy kan dalk verbaas wees om te hoor dat daar in die geskiedenis van die Olimpiese Spele 48 pare broers en susters was wat aan dieselfde sportsoort deelgeneem het. Jy kan dalk nog meer verbaas wees om te hoor dat een van daardie pare broers van Bloemfontein afkomstig is. Ontmoet Chris en Roelof Dednam. Hulle is nie net broers nie, hulle is Springbok-pluimbalspelers wat Suid-Afrika (gesamentlik of individueel) by twee Olimpiese Spele verteenwoordig het.
Christoffel Cornelius Dednam het sy eerste goue medalje verwerf in die gemengde dubbelspeltoernooi in die All-Africa Games van 2003. Vier jaar later herhaal Chris sy 24 karaat-prestasie op dieselfde spele in Algerië.
Maar niks vergelyk met die Olimpiese Spele nie en in 2004 behaal Chris ‘n mylpaal wanneer hy Suid-Afrika verteenwoordig op die Spele van 2004 in Athene. Tydens hierdie geskiedkundige spele presteer hy in die mansenkelspeltoernooi sowel as in die gemengde dubbelspeltoernooi. Dit was egter in die volgende spele, die skouspelagtige Olimpiese Spele van Beijing in 2008, waar Chris en boeta Roelof saam meegeding het in die mansdubbelspel – ‘n geskiedkundige gebeurtenis vir Suid-Afrika.
Pluimbal is definitief in die Dednams se bloed. Pa Dednam het ook gespeel en die twee broers het vroeg in hul pa se spore gevolg. Teen die tyd dat Chris matriek geskryf het, was hy die nommer een-pluimbalspeler in die land.
Hoewel dit was meer as tien jaar gelede was, speel pluimbal steeds ‘n groot ‘n rol in Chris se lewe. Nie net het Chris en Roelof hul Springbokkleure behou nie, hulle is ook nog al die tyd die SA dubbelskampioene – ‘n merkwaardige prestasie!
Pluimbal is ook nie die enigste liefde wat die twee Dednam-broers deel nie. Altwee is ook rekenmeesters. Nadat Chris graad behaal het op Kovsies en ‘n paar jaar ervaring opgedoen het, het hy in 2013 besluit om sy eie besigheid te begin as onafhanklike rekenmeester. Die firma se kleiner formaat beteken “ons verstaan presies wat in ons kliënte se boeke aangaan,” verduidelik Chris. Jonger broer Roelof, wat ‘n geoktrooieerde rekenmeester is, is tans die finansiële direkteur by National Real Estate.
Benewens sy rekeningkunde besigheid, het Chris ook ‘n tweede onderneming, Business Network International (BNI) – ‘n internasionale verwysingsorganisasie waarvan Chris die Vrystaat-franchise besit.
Chris woon tans met sy vrou, Alichian, en hul twee seuns, Aiden en Charltin in Bloemfontein. Dié twee meneertjies mag miskien nie pluimbalreuse word soos hul pa nie, maar die entrepreneursgees is definitief daar, met altwee wat hul eie “besighede” behartig. Braai with Aiden verkoop hout en draagbare braaistelle (kyk bietjie na sy Facebookblad), terwyl Charltin ‘n “onderneming” het wat gelamineerde naamkaarte vervaardig.
Of dit nou sport of besigheid is, dit lyk asof die Dednam-naam sinoniem met sukses is. – Vernon Baumann

info@bloemfonteincourant.co.za