Ds. Stephan van Heerden
Ons is reeds in die middel van die jaar en die tyd het met ’n spoed verbygesnel. Vandag is vir my persoonlik ’n spesiale dag, want ek verjaar juis op 31 Julie. Dié dag is nie net spesiaal omdat ek verjaar nie, maar dit is ’n besonderse dag vir elkeen van ons wat nog met mekaar die mooi van die lewe kan deel. Die manier waarop ons die lewe hier leef, is jou en my keuse. Elke dag is vol keuses en besluite. Dit beïnvloed ons menswees. Die inhoud wat jy dus aan jou bestaan hier op aarde maak, is volledig jou besluit. Die sinvolheid van die lewe hang nie af van geld en goed nie, maar dit lê juis in die onderlinge omgee vir mekaar. So vinnig is dit ook verby. Hiervan lees ek in 1 Kronieke 29:15: “Ons tyd op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan verby!” As jy jou oog knip, is die geleentheid om sinvol te kan leef vir altyd verby. Die uitdaging is om vandag opnuut jou woorde en optrede te bekyk en nuut te dink oor jou hier-wees. Dit is om nuwe gedagtes te soek en ’n nuwe manier van leef te ontdek, want die Bybel herinner ons aan die volgende woorde: “ ’n skaduwee gaan gou verby!”
* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale sielkundige.