‘n Saluut vir ‘iets blinks op die skouer’

0
1001

Die woord saluut het meer as een betekenis. In heelparty lande word dit gebruik wanneer ‘n heildronk ingestel word.

Vir die Kataloniërs is dit Salut. In dele van die Filippyne en in Maleisië sê hulle Salud. Die Italianers, Korsikane en Sardiniërs gebruik Salute, terwyl die Arubane op hulle eilandjie daar bokant Venezuela Bon salud! uitroep as hulle luidrugtig die glase omhoog hou.

Vir my is daar net een saluut, en dis die militêre saluut, soos dit by ons ingedril is toe ek in Januarie 1974 by 1 ADK op Lenz daar langs Lenasia aangemeld het vir my militêre diensplig. Die KORREKTE saluut, en nie daardie slordige, slaphandjie-pogings wat ‘n mens gereeld op televisie sien nie.

Ons het heel eerste die range geleer. Jy moes weet wie die offisiere was, wat jy moes salueer, en wie die onderoffisiere was, wat met ‘n ander gebaar vereer is. As ‘n onderoffisier verbystap, sou die eerste troep wat hom gewaar, hard skree: “Strek!” En dan sou almal blitsvinnig in ‘n semi-stuiptrekbeweging hulle arms reguit maak en styf teen die sye vasklap.

Die lys NCO’s (“non-commissioned officers”) was, van laagste na hoogste rang, onder-korporaal (hulle wat met een streep op die mou laer as ‘n Army-kombers was, wat darem twéé strepe gehad het), korporaal, sersant, staf-sersant en sersant-majoor, oftewel sammajoor.

Die offisiere was enigiemand met iets blinks op die skouers. Sterretjies, kastele, en soms selfs klein, gekruisde swaardjies. Hulle almal moes gesalueer word, insluitende die dominee-kapelane met hulle pers skouerversiersels. Regterarm flink op, oop handpalm na voor gerig, en jy raak regs voor aan jou baret of veldhoed. “Éen, twee-drie EEN!” En bewaar jou siel as jy dit sou waag om te salueer sónder ‘n hoofdeksel.

Ek het later self ‘n offisier geword. Die lekkerste lekker was toe daardie donnerse korporaal Craig, wat my so rondgeneuk het tydens die offisierskursus, noodgedwonge vir 2de Luitenant Grobbelaar móés salueer. Ek het gesorg dat ek gereeld by die klein kortgat verbystap net om my senioriteit in te vryf.

Lekker herinneringe. Cheers! Of sal ek sê: SALUD!

Albé Grobelaar