Chantell Hewitt is gebore in Bloemfontein en het grootgeword in die Vrystaat. As klein dogtertjie het sy altyd daarvan gedroom om haar eie studio en dansskool te hê. Dit is waar Chantell Hewitt Academy of Dance (CHAD) begin het.
Haar droom het uiteindelik in 2021 waar geword toe haar ouers haar finansieël gehelp het om haar eie dansskool te begin.
“Die style wat by CHAD aangebied word is Dancing Dots, Modern, Lyrical, Contemporary, Jazz en Tap, Hip Hop, Musical Theatre, Pom Poms (Cheerleading), Strek en Kondisionering, prestige groepe en kompetisieklasse ter voorbereiding vir kompetisies,” noem Hewitt.
Sy is gebore met ’n gestremdheid, maar dit keer haar nie om die lewe aan te pak nie. “Ek sien myself nie as gestremd nie, ek is net anders bekwaam en die enigste gestremdheid in die lewe is die onvermoë om ’n persoon as meer te sien.”
Hewitt noem dat sy graag deur haar klasse by die studio ander kinders wil inspireer om dans as bemagtiging te gebruik. “Dit maak nie saak hoe moeilik jou pad was of dalk steeds is nie, jy is nie alleen nie en daar is altyd iets om voor dankbaar te wees,” sê Chantell.
Sy noem dat haar ouers haar altyd motiveer om die beste te wees in wat sy doen. “Hul motiveringmotto aan my was ‘ek moet, ek wil, ek kan, ek sal en ek gaan, want ek is ’n wenner’.
xHulle het my gereeld geïnspireer en gemotiveer om hiervolgens te lewe en ek het dit my doelwit gemaak.” Die lede van die publiek wat belangstel om by CHAD aan te sluit, kan Chantell kontak op 082-820-5708 of ’n epos stuur na Chantell@chaddancing.co.za
Abigail Visagie