‘n Nuwe nuwejaarsvoorneme

0
256

Ons het in die verlede al baie daaroor gesels of jy vir jou ‘n spaarplan in plek moet kry en ‘n paar rand daarin spaar vir die Kersseisoen.

Dit bepaal dan wie die feesseisoen gaan geniet met kontant in die sak en wie gaan dit moet doen met ‘n kredietkaart of lening? Ek weet die laaste paar jaar was moeilik en meeste mense met wie ek gesels se begrotings klop net nie meer nie.

Iewers maak iets egter nie vir my sin nie… Mense kla dat hul begrotings nie klop nie, maar kom daar iets soos die sogenaamde Swart Vrydag of “Black Friday”, word miljoene rande op allerande onnodighede spandeer.

Kan jy enigsins verdere krediet aangaan? Kan jy bekostig om die Kersseisoen op skuld te geniet en net die onvermydelike uit te stel? Iewers moet skuld terugbetaal word, en dit met rente. Gaan jy in 2020 jou nuwe skuld se paaiement kan bekostig en steeds al jou huishoudelike uitgawes kan dek, of gaan jy verdere skuld aangaan om die bestaande skuld mee af te los? Suid-Afrika word deur baie onsekerhede in die gesig gestaar.

Moenie dat finansiële onsekerheid dit vir jou vererger nie. Suid-Afrikaners hou oor die algemeen nie van spaar nie en om op ons luukshede af te skaal, is nie tans op ons “to do”-lysie nie. Wat gaan dus in 2020 gebeur? Ons finansies gaan net verder onder druk kom. Ons gaan aanhou om geld op luukshede te spandeer en selfs nog minder spaar as in 2019.

In 2020 gaan ons weer op skuld met vakansie gaan en so die spiraal van skuld uitbou. Sal ‘n goeie nuwejaarsvoorneme nie wees om nou reeds te gaan sit en jou begroting op skrif te stel nie? Gaan sny op al die onnodige luukshede en probeer goedkoper alternatiewe vind vir jou noodsaaklikhede. Probeer geld beskikbaar stel in jou begroting en gaan neem vir jou ‘n effektetrustfonds uit om in te spaar.

Bou kapitaal op en begin meer op kontant lewe as met ‘n kredietkaart. In onsekere tye sal dit baie help as jy finansiële sekerheid het.

Horace Terry

horace@nassaux.com