‘n Nuwe blik op Elvis Blue se musiek

0
‘n Nuwe blik op Elvis Blue se musiek
Elvis Blue se nuwe Engelse album, Optics, het pas die lig gesien.

Die druk om met elke nuwe album te verbeter, is ‘n realiteit vir sanger Elvis Blue, wat die afgelope paar jaar toekennings ingeryg het soos min voor hom.
Sy nuwe Engelse album, Optics, het pas die lig gesien en hy kom stel dit eersdaags in die Rosestad bekend.
Optics is Blue se eerste Engelse album in drie jaar. Op die album werk hy, soos met sy vorige album, Êrens In Die Middel Van Nêrens, weer saam met bekroonde vervaardiger, Ewald Jansen van Rensburg.
“Ek hou baie daarvan om saam met Ewald te werk. In die laaste drie jaar het ek só baie musiek geluister en met my Engelse album wou ek weer ‘n slag iets anders doen, daarom het ek besluit om saam met iemand te werk met wie ek nog nooit vantevore aan Engelse goed gewerk het nie. Ewald is beslis een van my gunsteling-vervaardigers. Ek het my vorige Afrikaanse album (Êrens In Die Middel Van Nêrens) saam met hom geskep,” sê hy.
Blue vertel ook hy is ‘n massiewe aanhanger van Jansen van Rensburg sedert hy die eerste keer dié se musiek gehoor het. “Dit is veral die manier waarop hy goed doen. Ewald is ‘n baie moderne tipe musikant en ek het baie van sy werk gehou. Ek wou ook graag die manier hoe hy na musiekmaak kyk, inkorporeer in my nuwe Engelse album.”elOptics is goeie mengsel van elektroniese en akoestiese klanke. Terwyl Blue aan die album geskryf het, vertel hy, het hy besef lig en donker is ‘n sterk tema regdeur die album. “Ek het begin soek na ‘n woord wat lig beskryf. Die woord wat uitgespring het is ‘opties’, of soos die albumtitel aandui, Opitics. ‘Optics’ beteken die manier waarop jy kyk. Die titel is tweeledig vir my. Eerstens, omdat baie van die liedjies verwys na hoe ‘n mens na die lewe kyk en tweedens, hoe musiek die manier waarop jy na die lewe kyk, beïnvloed,” sê hy.
Blue vertel hy het die laaste vyf jaar verhoudings met ander liedjieskrywers begin opbou. Hy het skrywers van wie se werk hy gehou het, gekontak en gevra of hulle sou belangstel om saam met hom te skryf. “Almal aan wie ek geskryf het het ingestem om saam met my te werk. So, in die laaste klompie jare het ek gereeld oorsee gaan skryf saam met ander liedjieskrywers. Universal Music, my platemaatskappy, het my toe gekontak en laat weet die Amerikaanse liedjieskrywer, Dave Katz, was ook keen om saam met my te skryf. Toe ek in Januarie Amerika besoek het, het ons saam gaan sit en begin skryf.”
Die liedjie wat hulle saam geskryf het, is “Gone by December”. Dave Katz het saam met Katty Perry aan haar One of the Boys-album gewerk en Blue vertel hy was regtig bevoorreg om saam met hom te werk. “Ek is baie trots op die song wat ons saam gedoen het.”
Vir Blue was dit nog altyd lekker om saam met ander skrywers te werk. Hoewel hy nog selde saam met ander liedjieskrywers aan sy Afrikaanse liedjies gewerk het, meen hy die invloed van ander skrywers waarmee hy werk, trek tog deur na sy eie komposisies. Hy voeg ook by die ware kritici is sy aanhangers en dat slegs hulle sal kan sê of hierdie album vorige albums se grense gaan verskuif. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za

No posts to display