‘n Nuwe begin vir plaaslike brandstigter

0
‘n Nuwe begin vir plaaslike brandstigter

Christal-Lize Muller

Sy tyd in die tronk was die moeite werd. “Ek dink ek het baie geleer oor myself en besluit wat ek in die lewe wil hê. Dit was ‘n groot ontnugtering.”

Aan die woord is die Bloemfonteinse brandstigter, Jean Greyling, wat verlede week uit die Grootvlei-tronk onder korrektiewe toesig vrygelaat is. Dit kom nadat hy verlede jaar die Emoya-landgoed buite die stad se konferensielokaal op sy troudag aan die brand gesteek het.

Greyling het agt maande van sy vier jaar vonnis in dié tronk uitgedien en het kort na sy vrylating sy ervaring en toekomsplanne met Bloemfontein Courant gedeel. Hy sê daar was oorgenoeg tyd in die maande wat hy agter tralies deurgebring het om oor alles na te dink. “Jy dink die meeste die eerste twee maande. Daarna ‘bandiet’ jy en ‘stoot die tyd’, soos ons dit in die tronk stel.” Hy het deur baie emosies gegaan.“ ‘n Mens is kwaad en teleurgesteld. Dié goed is dinge waarmee jy worstel.”

Die wete dat sy vrou Lianné, wat vanjaar in April skuld beken het op verskeie aanklagte van bedrog en diefstal, en haar kinders, vir hom wag was egter sy behoud. “Die tronk is ‘n groot siftingsproses en mense verstaan nie hoe belangrik ‘n eksterne ondersteuningsraamwerk is nie. Mens leef vir besoeke oor naweke. Dit dryf jou.”

Greyling is verlede jaar in Oktober in die Bloefonteinse streekhof gevonnis nadat die brand miljoene rande se skade aangerig het. Die egpaar sou in Julie op die landgoed trou, maar hul bespreking is weens wanbetaling gekanselleer. Hulle is dieselfde dag in ‘n plaaslike restaurant getroud.

Die gebeure ná sy vonnisoplegging was vir hom skrikwekkend. “Jy weet nie wat gaan met jou gebeur nie en wie en hoeveel gevangenes gaan saam met jou in ‘n sel wees nie.” Aanvanklik moes hy ‘n sel met sestig ander gevangenes deel. Die laaste ses maande was hy in die medium B-afdeling. Hy het‘n sel met 22 ander gevangenes gedeel. Greyling het gou ingeskakel. “Ek het baie vriendskappe gebou, want die dinge waardeur ‘n mens gaan daar binne is erg.”

Greyling was werksaam by tronk se rioolwerke. “Ek het gekies om daar te werk, omdat dit idillies mooi is. Daar is wilgerbome, ‘n groot gronddam, voëls en eende.” Hy kon tyd in die natuur deurbring.

Die lang rye vir maaltye, om te stort en die toilet te gebruik, was vir hom minder aangenaam. Die kos was ook nie veel om oor huis toe te skryf nie. Hy het in die agt maand 18kg verloor. “Ek weet nie of dit die kos of stres was nie.”

Vir hom het die tronkbewaarders ‘n groot rol gespeel. “Hulle sien en werk met baie gevangenes, maar hanteer ons steeds soos mense.”

Greyling is opgewonde oor die toekoms. Dit is ‘n nuwe begin vir hom en sy gesin. “Daar is mense wat hulle verlekker wanneer ander mense deur moeilike tye gaan. Ek het nie vir hulle ‘n boodskap nie.”

Hy sê verder dat hy en Lianné se kinders, wat hy as sy eie beskou, haar onvoorwaardelik sal ondersteun wanneer sy op 17 Julie gevonnis word. “Sy is ‘n ongelooflike vrou en al het sy in haar verlede foute gemaak, bepaal dit nie wie sy is nie. Ons is lief vir haar.”

Lianné het onder meer geld van voornemende kopers ontvang vir artikels soos duur voertuie, maar nooit die geld, kwansuis vir invoerbelastingdoeleindes, aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) betaal nie.

Christal-lize@centralmediagroup. co.za

No posts to display