‘n Nuwe begin met jare lange wysheid

0
171
Rushny Kruger en Esther Knoetze PHOTO: HEIDRE MALGAS

Mev. Esther Knoetze (73), wat vir 15 jaar deel was van Happy Finches ECD, ‘n kleuterskool in Ashbury, Heidedal, tree eersdaags amptelik af as hoof van dié uitmuntende kleuterskool. Sy was vir 10 jaar betrokke by die skooltjie as maatskaplike werker, en vir vyf jaar as hoof.

Happy Finches ECD is in ‘n omgewing geleë waar alles nie altyd vreeslik rustig is nie, maar mense word keer op keer verras deur die kalmte wat daar by die skooltjie heers. Rushny Kruger, wat gaan oorneem as skoolhoof, het aan Bloemfontein Courant gesê dat mev. Knoetze die goeie Samaritaan is wat Heidedal nog altyd nodig gehad het; iemand wat nie uit Heidedal afkomstig is nie, maar wie se omgeehart vir die gemeenskap van haar ‘n besonderse mens maak.

Baie mense het weer hul vertroue in die skool teruggekry weens die feit dat sy aan stuur van sake was. Kruger vertel dat die kleuterskool ‘n nie-winsgewende organisasie is wat afhanklik is van fondse wat van buite af kom.

Daar is baie dinge wat die skool nodig het, veral vir die welstand van die kinders; dinge soos sielkundiges wat kinders in hul vroeë jare kan help. “Ek het so baie geleer by mev. Knoetze. Dinge wat nie noodwendig op papier oorgedra kan word nie, dis iets wat jy self moet ervaar, soos om onder meer die visie agter alles te verstaan.

Dit maak my werk maklik, want dis maklik om ‘n huis waarvan die fondasie sterk is, verder te bou,” voeg sy by. “Iemand het omgegee en ons ‘n guns bewys toe een van ons eie dit nie kon doen nie. Dit lê my baie na aan die hart,” se Kruger.

Sy sê vroeë kinderontwikkeling is baie belangrik in ‘n kind se lewe en mev. Knoetze het nog altyd daaroor gedroom om ‘n sentrum in die gemeenskap te stig waar kinders wat deur trauma gaan, gehelp kan word deur sielkundige hulp en bygestaan word met dit wat hulle gaan help om beter mense vir die samelewing te wees.

Kruger begin op 1 Oktober amptelik as die nuwe skoolhoof.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za