’n Muntstuk om oor te tiekiedraai

0
674
dav

Daar is nagenoeg ‘n miljoen tiekies in 1930 in Suid-Afrika gemunt. Twee jaar later het ‘n allemintige 2,6 miljoen nuwe tiekies in sirkulasie gekom.

Maar dis daardie tussen-in jaar wat interessant is. In 1931 is daar slegs 128 tiekies gemunt. Een honderd agt en twintig! Dit was in die tyd van die Groot Depressie, en baie min munte is daardie jaar geslaan.

Op laerskool was ek en my pelle baie bewus van die fabelagtige 1931-tiekie. Almal het geweet jy sou skatryk wees as jy een van hierdie muntstukkies kon uitsnuffel. Jare lank het ek elke tiekie waarop ek my hande kon lê, minstens drie of vier keer omgedraai en bestudeer in die hoop dat ek dalk die boerpot sou slaan. (Terloops, volgens The Scoin Shop kan jy vandag vir ‘n 1931-tiekie tot so veel soos R200,000 kry.)

Suid-Afrika het in Februarie 1961 oorgeslaan van ponde, sjielings en pennies na die desimale stelsel toe. Dan Hill en sy orkes se liedjie, Daan Desimaal, wat Fanus Rautenbach elke oggend in sy radioprogram, Flink Uit Die Vere, gespeel het, onthou ek nog soos gister. “Daan Desimaal, die rand-sent-man / Gee jou sente vir pennies net waar hy kan / Een sent vir een, en twee vir twee / En twee-en-‘n-half vir ‘n tiekie.” Daar was destyds ook ‘n Engelse weergawe, Decimal Dan, waarvan ek onlangs eers bewus geraak het. Engels was in daardie dae nog die taal van die vyand in die Grobbelaar-huishouding!

Hoe goed onthou ek nie die name van die verskillende muntukkies voor desimalisasie nie. ‘n “Oulap” was ‘n pennie. Die “oortjie” was ‘n kwartpennie. Onthou jy nog die “stuiwer”? Dis wat die halfpennie genoem is. Jy kon ‘n groot pak slaptjips met ‘n stuiwer koop. ‘n “Twalap” was in die volksmond ‘n pennie, en ‘n “daalder” was een sjieling en ses pennies, oftewel “een-en-ses”. Dokters, tandartse en prokureurs het hulle tariewe in “guineas” aangegee.

Jy sê dis ‘n teken van oud word as ek van die goeie ou dae praat? Hier’s my antwoord: Emoji (middelvinger)!

Albé Grobelaar