‘n Loopbaan vol hoop vir eerste vroueleraar

0
870

Maricelle Botha

Bloemfontein se oudste NG Kerk, die Tweetoringkerk, het oor die jare daarvoor bekend geword dat hulle nie juis dinge volgens die boek doen nie. Dié kerk, waar daar steeds ’n spesiale bankie vir die ene mev. M.T. Steyn is, was op sy beurt ’n toonbeeld van Afrikaner-nasionalisme. Vandag is hierdie kerk egter bekend as ’n instansie wat hom toespits op sendingwerk. ’n Kerk waar almal welkom is. “Groot dele van apartheid moes uit die kerk gekom het, maar vandag is ons deure oop vir arm en ryk, wit en swart, mans en vroue – vir almal,” vertel ds. Kirna Hellmuth.

Hellmuth is Sondag as dié gemeente se eerste vroulike leraar bevestig. Sy lag as sy vertel dat vele haar al uitgevra het oor die Tweetoringkerk se bestaan. “Die kerk bestaan nog altyd net soos dit vantevore bestaan het, maar ons het ook die Torings van Hoop-stigting hier, ‘n nie-regeringsorganisasie wat vanuit die kerk bedryf word. Daar was wel al gerugte dat die kerk sou toemaak, maar al wat werklik verander het, is dat die gemeente sy deure oopgemaak en die kerk nou oop is vir almal. Bewys van lidmaatskap is nie vir ons die belangrikste nie; eerder dat mense kom. Die gesig van die gemeente het verander, dit beteken mos nie die gemeente is dood nie.”

Die 24-jarige Hellmuth is sedert haar studentejare al betrokke by Torings van Hoop en vertel dat hierdie gemeente haar soos ’n handskoen pas. Haar nuwe kollega, ds. De la Harpe le Roux is ook geen vreemdeling vir haar nie. “De la Harpe was voorheen my pa se kollega by die Fichardtkruin-gemeente in die stad en dit is hoe ek by Torings van Hoop betrokke geraak het.”
“Ek het nog altyd daarin geglo om anders te werk te gaan as met gewone gemeentewerk. De la Harpe het eendag gesê hy het vir my ’n geleentheid om betrokke te raak by uitreikwerk. Met die kospakkiebedienning het ek die geleentheid aangegryp,” vertel sy. Die res is geskiedenis.

Hellmuth se pa, ds. Rikus van Zyl, is tans steeds leraar by die Fichartdkruin-gemeente asook skriba van die Vrystaatse NG Kerk se moderamen. Hy het Sondag die eer gehad om sy dogter as predikant te bevestig. “Die dag toe my pa my voorgestel het en langs my aan die nagmaaltafel gesit het, het ek vir hom gesê dat ons eendag weer om die tafel sal sit, maar dat ek die nagmaal aan hom sal uitdeel,” vertel sy. En nou sal sy dit ook binnekort kan doen. Sy vertel dat sy reeds in graad 10 die roeping gekry het om ’n verskil te maak. Dit het eintlik gekom deur ’n ‘skaduweek’ waar sy as leerder iemand in ‘n spesifieke beroep moes ‘skadu’ en dan besluit of sy so ’n loopbaan sou kon volg. “Toe ek nie eintlik ’n plek kon kry waarin ek belangstel nie het ’n dominee gesê dat ek hom kan kom ‘skadu’, lag sy.

Hellmuth vertel dat sy juis besluit het om teologie te gaan swot om ‘brood’ te gee aan diegene wat dit nie kan kry nie, om mense te kan bemagtig om ’n vol lewe te hê, nie net ’n geestelike lewe nie, maar in alle opsigte.” Sy is opgewonde oor die vooruitsig van haar beroep. “Dit is lekker dat ’n mens hier buite die boks kan dink en ’n verskil kan maak. Jy kan binne jou konteks bly, maar nie soseer die konteks raak nie. Wat help konserwatisme jou? Dit is soos om oogklappe aan te sit en te kies om nie die probleem rondom jou raak te sien nie. Ons kan nie meer kerk wees soos ons somtyds nog kerk is in die NG kerk nie.”

Vir meer inligting oor die Tweetoringkerk of Torings van Hoop, skakel 051-430-4274 of stuur ‘n e-pos nainfo@towersofhope.org.