‘n Kykie na die verlede: Vrystaatse Botaniese Tuine

0
1631

Die Vrystaate Botaniese Tuine is ‘n plek waar die natuur met jou praat en jou deel laat voel van lank gelede se geskiedenis. Dit is ook die plek waar verskeie kunsmarkte aangebied word en waar jy ‘n heerlike maal kan geniet op ‘n Sondagmiddag.

Die ontstaan van die tuine dateer terug na 1965 toe dit geïdentifiseer is om as die Botaniese Tuine bekend te staan nadat Naval Hill en ‘n deel van die plaas Brandkop ook hiervoor oorweeg is. Die tuine is amptelik op 22 Februarie 1969 deur Staatspresident Jim Fouché oopgestel.

President Fouché het daardie dag ‘n wilde olyfboom (olea europaea) geplant wat tot vandag toe te sien is. Dit is ook bekend dat daar van hierdie bome so oud as 200 jaar kan wees. Die gebied bevat nie net plante en bome nie, maar is ook ‘n tuiste vir sowat 124 voëlspesies, 54 reptielspesies en 50 verskillende soogdiere.

Wanneer besoekers deur die tuine stap, word hulle deel van die kultuur van die destydse Basotho-volk sowel as die werklikheid van die Anglo-Boereoorlog. Daar is selfs nog pottebakkersware wat deur die Basotho-inwoners gemaak is in die opvoedkundige sentrum, saam met heelwat bewyse van die oorlog wat tussen 1899 en 1902 plaasgevind het. Die blyk dat die Britte in die omtrek gestasioneer was aangesien die dam gebou is om water aan soldate se perde te verskaf. Die klipmuur wat gebou is, staan vandag nog.

Die tuine verwelkom daagliks individue wat ‘n staproete kom aanpak, na die voëls kom kyk, kom piekniek hou, of selfs wil kom skilder. Besoekers wat lus is vir ‘n lekker bord kos, kan gerus die restaurant op die perseel besoek.

Op pad uit, is die kuriowinkel daar met interessante boeke, poskaarte en klein geskenkies om te herriner aan dié gunsteling-vertoefplek in Bloemfontein.

Maak gerus ‘n draai by die Vrystaatse Botaniese Tuine. Hulle is daagliks oop van 08:00 tot 17:00. Vir meer inligting, besoek gerus die kantoor op die perseel of bel 051-436-3530.

JERETHA OOSTHUIZEN

jeretha@mahareng.co.za