MARINÉ JACOBS
Twee Bloemfonteiners gebruik hierdie Kerstyd om die Vrystaat-gemeenskap se vierpotiges te help. Emain Fourie van EDesigns Helping Animals en Carina Thiart van Fundraising Events for Pets het ’n Rescue Pets are Best-kalender vrygestel. Die opbrengs wat met die verkoop van hierdie kalender gemaak word, sal vir die werk van albei organisasies aangewend word, asook ander organisasies soos die Dierebeskermingsvereniging (DBV) en Four Claws. “Mense is regtig baie oningelig oor die oorpopulasie van diere,” sê Fourie. “Dis groter as wat enige iemand besef. Shelters oral sit met hokke wat vol is. Ons moet diere so vinnig as moontlik by foster homes kry net om nie gesonde diere hoef uit te sit nie.” Sy vra ook mense om hul diere te steriliseer indien hulle nie met die diere wil teel nie – sodoende kan die probleem van weggooi-diere verder aangespreek word. Vrywilligers wat graag by diere-organisasies betrokke wil raak of enige donasies lewer, kan haar gerus skakel vir verdere inligting.
Die kalender kan bestel word op EDesigns Helping Animals se Facebookblad, asook by cjthiart@vodamail.co.za of emain@internext.co.za.