‘n Jong Debbo hou Al se droom lewend

0
1751

LANI FOUCHÉ

In Bloemfontein is daar ‘n spesiale pa-en-seun-paar in die vermaaklikheidsbedryf wat gehore van toeka tot vandag op die punte van hul stoele hou. Die ontslape kunstenaar en komediant Al Debbo se seun, Alec Debbo, poog om met ‘n huldeblykkonsert, Hasie, hoekom is jou stert so kort? sy pa se nagedagtenis lewend te hou.

Hasie, hoekom is jou stert so kort? is ‘n prettige situasie-komedie vir jonk en oud. Mense kan vir ‘n uur kom sit, ontspan, lekker lag en ‘n bietjie vergeet van hul daaglikse roetine en probleme. Dis belangrik om te kan lag. Courant het met Alec gesels oor sy nuutste produksie

Waarom het jy as wyle Al Debbo se seun besluit om ‘n gedenkkonsert vir hom te hou?
Ek het agtergekom my pa se werk is tydloos en die musiek is pret. As mense my raakloop vra hulle altyd waar kan hulle van sy films en musiek kry, want hulle het dit weer op kykNet gesien en dit só geniet.

Jy integreer jou skryf- en toneelspeeltalent met jou pa se musiek. Hoekom werk dié kombinasie?
Ek dink dit werk omdat die teks ‘n komedie is en lig is. My pa het gesê hy hou daarvan om mense te laat lag. Dis wat ek probeer doen met Hasie, en dit werk. Genadiglik het ek ook ‘n lekker sin vir humor van my pa geërf en die teks en musiek kombineer baie lekker.

Hoeveel vertonings het julle reeds agter die rug en wat lê nog voor vir Hasie, hoekom is jou stert
so kort?
Ons het al vier vertonings agter die rug met Hasie. Een was by die nasorgsentrum. Dit was vir my ongelooflik. Ons het nog vier oor in Bloemfontein en as ons sukses behaal sal ons graag met die produksie na dorpe en stede buite Bloem wil toer soos wat hulle in die ou dae gedoen het.

Vertel van die terugvoering wat jy reeds ontvang het oor hierdie produksie.
Ons terugvoering op die vertonings is baie positief. Talle van die ouer gehoorlede vertel dat hulle dit so geniet het en dat die nostalgie hulle behoorlik beetgekry het. Hulle onthou die eerste keer dat hulle my pa sien optree het. Die jonger kinders geniet ook die musiek baie, waar hulle eers huiwerig was om te sê dis oud. Hulle lag op die ou end en klap saam.

Waarom is dit vir jou belangrik om die kunste en jou talente in Bloemfontein te hou?
Ek is ‘n Bloemfonteiner en Vrystater in murg en been. Ek sal graag van hier af my loopbaan wil bou. Ons kweek ongelooflike talent hier en dis hartseer, want talle kunstenaars moet dan Kaap of Johannesburg toe trek omdat die geleenthede so beperk is hier.

Wat dink jy sou jou pa vandag gesê het oor jou Hasie-produksie?
Ek dink my pa sou trots gewees het en gesê het die mense lag lekker.

Hoe belangrik is dit vir jou om jou pa se nagedagtenis lewend te hou?
Dis vir my baie belangrik. Oral waar ek kom praat groot mense in die bedryf met lof oor hom, dat hy die grondslag gelê het en hulle geïnspireer het. Hy was vir meer as 60 jaar in die vermaaklikheidsbedryf en ek hoop om aan te gaan met die Debbo-naam in die bedryf.

*Hasie, hoekom is jou stert so kort? se volgende vertonings is op 17 en 18 April 2015 by die NG Gemeente Heuwelsig. Die konsert begin om 19:30. Kaartjies kos R100 en is beskikbaar by die kerkkantoor en by die deure.

lani@centralmediagroup.co.za