‘n Hengeluitstappie om te onthou

0
2616
Die spanlede is van links, voor: Jo-yn de Bruin en Lawrence Mosala; agter: Romano Ryan, Granston Morgan, Pappie Booysen, Lebona Makheta, Motlhabane Segalo, en Charl Adams

Jo-yn De Bruin van Heidedal skryf: En so vertrek ons as Heidedalers een Saterdag vroegoggend vanaf die Shell Ultra Pitstop in Bloemfontein vir ‘n langverwagte hengelkompetisie, naamlik die Bloemhof Bonanza.

Drie bakkies, drie sleepwaens en agt hengelaars vat die pad op ‘n roete wat vooraf beplan is om seker te maak dat ons op paaie reis wat goed instand gehou is.

Om 09:00 ry ons Bloemhof binne en stop by die plaaslike supermark om die laaste benodighede te kry. Dit vat ons n rukkie, maar van daar af is ons reguit na die registrasiepunt en word ons verras met ‘n bykomende R450 fooi per voertuig vir die kamp. Net daar besef ons dat daar geen omdraaikans is nie. Ons het gekom vir ‘n rede en ons gaan volhou daarmee.

Na die registrasie is ons reguit na ons hengelpunt, waar ons kamp opslaan – vier tente om in te slaap en ‘n vyfde wat as die kombuis dien, asook twee gazebo’s vir skadu gedurende die dag. Party van die manne verkies om bietjie te rus, terwyl die ander verkies om hul hengelbenodigdhede reg te kry vir die begin van die kompetisie om 17:00.

Op die oewer loop die hengelkoors hoog en almal is reg vir die wegspring om 17:00. Toe 17:00 aanbreek skiet mieliebomme, souse en fynuitgewerkte kombinasies van alle kleure die waters binne. Nie lank nie en die eerste katrol skree, die skepnet hoor ons teen die oewer af en spanmaant Lawrence bring die eerste karp na vore.

Almal is opgewonde en klap hande. “Die R100 000 is ons s’n,” word daar tussen ons grappies gemaak! Baie vis word gevang die Saterdagaand en die moraal in die span is baie hoog. Niemand wil gaan slaap nie en Sondagoggend om 04:00 val ons so een vir een uit na die tente om te gaan “tiep”!

Nie te lank daarna nie is ons weer op en besef dat ons ‘n groot probleem op hande het. Die watervlak is besig om te styg teen ‘n hengse spoed. Stokke word weer gelaai met aas en die dam ingestuur. Almal wag in spanning, maar min vis word op die dag gevang.

Ons is bekommerd en probeer verskillende kombinasies, en baie idees word uitgeruil. Hier en daar kry ons ‘n byt, maar die gras in die sloep maak dit moeilik om die vis uit te trek. Met die opstoot van die water het baie van die gras wat ontbloot was onder water verdwyn en hengel kondisies geaffekteer.

Gemoedere loop hoog omdat ons een na die ander vis verloor as gevolg van die gras, want nou moet ons die gras probeer vermy en oor spanmaats se lyne beweeg om te verseker dat die vis uitgetrek word. Sondag was ‘n moeilike dag en ons moes vrede maak met die min vis wat ons gevang het. ‘n Lekker beespotjie het egter opgemaak vir die verlies en die aand en was ons sommer lekker vaak van die baie eet.

Maandagoggend moes ons steeds die stygende watervlak trotseer, en moes ons finaal besluit om ons kamp 15 meter terug te skuif. Na al die moeite word daar ‘n braaivleisvuur gestook om vir die lekker kampbraai voor te berei.

Na die kampbraai het die vis weer mooi gebyt maar dit was meestal klein. Die grootste karp was 4.8 kg en die grootste baber 7.5 kg. Ons kon egter nie die vis inskryf nie omdat daar alreeds swaarder vis gevang was.

Met die sluitkompetisie kry almal weer nuwe krag en hengel almal weer lekker om vir oulaas te kyk of ons groter vis kan uittrek. Maar dit was te vergeefs.

Dinsdagoggend teen 07:00 is almal op en aan die gang. Die moraal is nou laag, want die bonanza het tot ‘n einde gekom. Die kamp word stukkie vir stukkie afgebreek terwyl daar lekker musiek in die agtergrond speel.

Weereens buig ons die hoofde en vra die Vader vir ‘n veilige rit terug en dank Hom dat Hy Sy beskermende hand oor ons almal gehou het. Teen 17:00 kom ons in die Rosestad aan – moeg en lus vir niks.

Dankie aan een en elk wat die Bloemhof Bonanza moontlik gemaak het. Dit was n fantastiese ondervinding en ons sien julle weer volgende jaar daar.