By ’n vorige geleentheid het ek my gedagtes gedeel oor omgee en ons doel op aarde. Die vers in Galasiers 6:10 het my aangegryp. “Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges”. Paulus skryf oor die goedheid wat ons aan ander moet uitdeel. Hy beklemtoon die feit dat daar soms ‘toevallighede’ oor ons pad mag kom en dit is juis die geleenthede wat die Here vir ons gee om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak. Hierdie geleenthede is dikwels net eenmalig, maar dit is ’n kans om iemand se lewe te verander. Dalk is dit vandag net ’n glimlag, ’n geldjie, of ’n mooi woord. Ons kan dit doen ter wille van Jesus. Jou liefdesdaad kan iemand vandag oortuig om in Jesus te glo. Jy wys uiteindelik ander mense na Jesus in die styl waarop jy ander hanteer. Onthou, jou klein bietjie liefde kan ’n groot verskil maak in iemand se lewe. Wil jy dit nie saam met my vandag aan ander uitdeel nie?
Ds. Stephan van Heerden
* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale sielkundige.