’n Fout wat jou duur te staan kan kom

0
831

Ons het al baie daaroor gesels dat jy moet oppas vir beleggingsportefeuljes wat te konserwatief gestruktureer is, aangesien dié tipe portefeulje nooit of selde inflasie oor die langer termyn uitpresteer. Hoewel dit baie gemoedsrus bied in die sin van stabiliteit en ‘n kleiner kans op kapitaalverlies, loop jy die gevaar dat jou geld sy koopkrag gaan verloor en dat jy mettertyd gaan verarm.

Ons het egter nog nooit gesels oor die ander kant van die “gevaarskaal”nie. Daar is diegene wat weer heeltemal oorboord gaan en heelwat beleggingsrisiko in hul beleggingsportefeulje neem, en indien hulle nie onmiddellik uitstekende resultate kry nie of net bietjie van ‘n negatiewe groei ervaar, onttrek uit dié beleggingsportefeulje, net om die volgende wilde perd op te saal.

Die persone skuif dus op die korttermyn tussen hoërisiko-beleggingsinstrumente rond, op soek na die onmiddellike gratifikasie van hoë beleggingsopbrengste. Hulle sal dus byvoorbeeld ‘n groot deel van hul kapitaal in ‘n aandelefonds belê. Indien daar nie onmiddellike resultate is nie, onttrek hulle uit die aandelefonds en koop weer in op ‘n ander aandele- of eiendomsfonds, en so hou dit aan.

Gewoonlik word daar ‘n verlies gerealiseer elke keer as so ‘n skuif gemaak word en benodig die belegger al hoe hoër en hoër opbrengs om op te maak vir die gerealiseerde verlies (wat gewoonlik nie gebeur nie). Dié tipe belegger spaar of belê homself dus bankrot, sy kapitaal word al minder en hy word al hoe meer desperaat.

Onthou, ‘n belangrike hulpmiddel wanneer dit by beleggings of spaar kom, is saamgestelde opbrengs. Net soos wat saamgestelde opbrengs‘n belegger kan help om sy beleggingsdoelwitte te bereik, net so kan saamgestelde verliese jou kapitaal vinnig vernietig.

Byvoorbeeld, indien jy 10% van jou kapitaal verloor, moet jy 11.11% groei genereer, net om op te maak vir die verlies. Indien jy 20% van jou kapitaal verloor, moet jy 25% groei genereer om die verlies te herstel, en as jy 50% van jou kapitaal verloor, moet jy ‘n hele 100% kapitaalgroei bewerkstellig, net om weer terug te kom waar jy was.
Vestig dus vir jou ‘n belegging- of spaarstrategie en bly daarby. Jou geduld sal beloon word.

horace@nassaux.com