’n Feesviering in ware Arco Musica-styl

0
582

Maricelle Botha

Arco Musica vier volgende maand hul twintigste bestaansjaar. Met ’n string suksesvolle vorige produksies op hul kerfstok, beloof die verjaardagvieringe beslis ’n hoogtepunt te wees. Volgens Brenda Myburgh, regisseur van Arco Musica se nuutste produksie Arco & Vriende Go Vintage, moet gehore nie onder die wanindruk verkeer dat hierdie ’n streng klassieke produksie is nie. “Hoewel ons ’n uiters professionele standaard handhaaf, is die program so saamgestel dat dit die gehoor op ’n reis deur die verlede neem deur middel van bekende musiek.” Myburgh vertel dat die musiek deur teks aanmekaar geweef word.

Sy voeg by dat soos met Arco se vorige produksies, die klem sterk daarop val om die gehoor met ’n opbouende ervaring huis toe te stuur.”Ek dink iemand soos André Rieu het die weg gebaan vir meesterlike produksies wat gehore nader aan klassieke musiek bring,” voeg sy by. Van die hoogtepunte in Arco & Vriende Go Vintage is optrede deur die bekende sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit en Bloemfontein se gunsteling Jy is my Liefling-deelnemer, Caroline Haasbroek. Caroline gaan ook haar vere regskud vir die danspassies in die Broadway- en Cabaret-nommers.

Die Arco-orkes en musiekvriende uit die verlede gaan die Sand du Plessis se verhoog omskep in ‘n prentjie van ouwêreldse sjarme en styl. Die programverloop is so saamgestel dat die musiek verskillende eras en wêrelddele verteenwoordig.
Die musiek (instrumentaal en vokaal) sluit ook ons eie FAK-liedjies met ‘n boere-keurspel in waar Du Toit onder andere ook “Liedjie vir jou” sing. Haasbroek en Herman Strauss gaan ou gunstelinge soos “Come what may” uit Moulin Rouge, “My Way” en “Vincent” asook “Cabaret” en “Diamonds” sing. Ernstige, intieme vokale nommers soos “Danny Boy” en “Besame Mucho” uit die oorlogjare word afgewissel met opwindende virtuose instrumentale items soos “Nazdarovje” en “Para ti”. Tsidi Gude sal gehoor word in “African Dream”.

Myburg beloof dat ’n verrassing op die gehoor in die grand finale wag wanneer ’n hele klomp vriende (sangers en bekende persoonlikhede) by Arco aansluit. Die welbekende spreker Pieter Möller gaan op ‘n komiese wyse kommentaar lewer om die aand se atmosfeer lig en vermaaklik te hou. Debbie Brink is die musiekregisseur. Daar is twee vertonings van Arco & Vriende Go Vintage op 12 Julie om 18:00 en 20:30 in die Sand du Plessis-teater. Kaartjies is R120 en R150 by PACOFS, Crazy Daisy-winkels en Izami-bloemiste in Bayswater. Navrae : 083-259-2226

Kom ontmoet Arco Musica Saterdag, 8 Junie om 10:30 by Pretty Gardens, Langenhovenpark. Hulle bied ’n gratis bekendstellingskonsert aan wat dien as ’n aptytwekker vir die glansproduksie getiteld Arco & Vriende Go Vintage.

maricelle@centralmediagroup.co.za