‘n Fees wag vanjaar op skougangers

0
1118
Spoegwolf tree vanjaar by die Bloemskou op.

Na twee jaar van geen Bloemskou nie, word besoekers vanaf 27 April tot 7 Mei terugverwelkom na ‘n fees ter feeste.

“Ten spyte daarvan dat dinge ‘n bietjie anders gedoen moet word, kan besoekers en deelnemers uitsien na ‘n besonderse skou wat 300 uitstallers, 50 kosstalletjies, 29 pretparkritte, 21 landboukampioenskappe, 6000 deelnemende perde, beeste en skape, 20 kunstenaars, ‘n FMX motorfietswaagvertoning, ovaalbaanwedrenne, BMX- en skaatsplankvertonings insluit,” sê Elmarie Prinsloo van Bloemskou.

Besoekers kan ook uitsien na ‘n sintetiese yskaatsbaan, ‘n nuwe pretrit en ‘n propvol vermaakprogram wat verskeie kunstenaars insluit.

Behalwe vir die perde-, beeste- en kleinvee-kampionskappe wat plaasvind, sal daar ook vanjaar ‘n Nasionale Jack Russel-skou op 30 April in die Angusbeesring plaasvind. Die grootste opelug Saalperdskou vind ook vanaf 25 tot 30 April plaas met vier Amerikaanse beoordelaars.

Elmarie Prinsloo

Omdat Bloemskou weet dat elke sent deesdae tel word daar verskeie geleenthede gebied vir mense om ‘n rand of twee te spaar. Voorafaankope kan tot 26 April om 17:00 teen ‘n spesiale tarief by Computicket gedoen word. Jy kan R10 afslag kry op jou toegangskaartjie vir al die dae, behalwe vir die halfprysaanbiedinge.

Daar is ook 50% afslag op pretparkpakkette waar R600 betaal word vir 60 ruilbewyse (tokens), waar dit normaalweg 30 ruilbewyse sou insluit. Woensdag, 4 Mei, is daar vir R200 onbeperkte ritte, asook halfprys vir studente met Spoegwolf wat optree. Donderdag, 5 Mei, sal toegang halfprys wees met die Sing Country-aand deur Juanita du Plessis, Franja du Plessis en Ruan Josh.

En wat wil Bloemskou die jaar bereik? “Ons wil die wiele weer aan die rol kry met die welkome terugkeer na Covid, ons wil ‘n bemarkingsplatform bied vir landboutelers, entrepeneurs en besighede, ons wil weer vir diensverskaffers ‘n inkomstestroom verseker, ons wil weer ‘n ekonomiese bron vir Bloemfontein en die Vrystaat skep en bo alles wil ons mense kry om weer die mooi te waardeer en saamwees tye te geniet,” sê Prinsloo.

Bloemskou verwelkom graag besoekers, uitstallers en deelnemers wat voldoen aan die nuut-aangekondigde Covid-19-regulasies wat bewys van inenting of, as alternatief, bewys van ‘n negatiewe Covid-19-toets wat nie ouer as 72uur is nie, insluit.

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za