‘n Dag in ‘n blinde se skoene

0
508
See-it-Forward het verlede Saterdag die Rosestad se mense byeengebring om blindheid te ervaar.

Om ‘n dag in die skoene van ‘n blinde te stap was die idee van twee Bloemfonteinse ma’s, Leshana Henning en Michelle Claase, wat verlede Saterdag by die Hoërskool Fichardtpark ‘n See-it-Forward-geleentheid gehou het om die mense van die Rosestad bymekaar te bring en fondse in te samel ten bate van blind kinders.

Die twee ma’s het die geleentheid gereël om bewustheid te skep rondom kinders met sigverlies. Aangesien Oktober Blindheidbewustheidsmaand is, het hulle besluit dat dit ‘n geskikte tyd sou wees om mense in te lig oor sigprobleme by veral kinders. Henning het aan Bloemfontein Courant verduidelik dat hierdie ‘n kwessie is wat baie na aan die hart lê omdat hulle ook kinders het met sigprobleme.

Aktiwiteite soos om geblinddoek deur hindernisse te gaan, het mense laat voel wat die kinders elke dag deurmaak. Henning het ook gesê dat dit ‘n kans was om geld in te samel vir hul twee seuns. Van die geld sal vir haar seun van ses jaar gebruik word as skoolgeld terwyl Claase se 18-jarige seun ‘n “E-sight”-bril benodig.

Die dag is goed ondersteun en as ouers met kinders met sigprobleme, wil hulle elke jaar van nou af ‘n ander gesin of kind probeer help deur soortgelyke geleenthede te hou. Mense kan betrokke raak en hierdie projek ondersteun deur te gaan na hul Facebook blad: See-it-forward Blind Awareness.

SAZLY HARZTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za