MARINÉ JACOBS
Wian du Preez is ’n voormalige Cheetah-rugbyspeler, het al vir die Bokke uitgedraf, is tans ’n speler vir die rugbyklub Munster in Ierland… en is die pa van klein Marguerite Helene du Preez. Marguerite is Wian en sy vrou Enelle se eersteling en is op 30 Mei vanjaar in Limerick, Ierland gebore.
“Sy is na haar ouma vernoem wie se doopname Maria Magdalena is,” vertel Wian. Marguerite is nie net die Du Preez-gesin se eerste kleinding nie, maar ook die eerste kleinkind aan beide kante van die familie. “Almal was baie opgewonde oor die swangerskap nuus!” sê Wian. “Die nege maande het so vinnig omgevlieg en dit was altyd lekker om Marguerite op die scans te sien groei en mens word binne Enelle se maag.”
In teenstelling met sy rugby-persona bring Marguerite die sagte kant in Wian uit, en jy kan sommer sien dat sy klaar haar pa om haar pinkie draai. “Die oomblik toe ek haar die eerste keer gesien en vasgehou, het sal ek nooit vergeet nie! Ons geniet haar verskriklik en dis amazing hoe baie sy al van geboorte tot nou ontwikkel het.” Sy gunsteling deel van ouerskap is beslis om by die huis aan die einde van die dag te kom, haar vas te hou en met haar te speel. “Of as sy ons vroeg oggende wakker maak met haar baba geluidjies. Dis baie nice en spesiaal,” glimlag hy.
Maar nee, ouerskap kom beslis nie sonder uitdagings nie. “Die min slaap in die begin was maar moeilik en dan natuurlik om ’n vuil doek om te ruil het ook tyd gevat om aan gewoond te raak!” Noudat hy dit onder die knie het, sê Wian, is die moeilikste om Marguerite te groet wanneer hy ’n naweek weg van die huis af speel. Gelukkig is Enelle aan Wian se sy om te help met al die uitdagings wat nuwe ouers moet oorkom. “Enelle is ’n wonderlike ma!” sê Wian. “Sy was ’n masjien in die begin maande en daar was tye waar ek niks energie gehad het nie, maar sy het net aangegaan en gesorg dat Marguerite happy is al was dit vieruur die oggend.”
Wanneer jy met Wian gesels, is dit duidelik dat hy gevestig is in sy waardes en oortuigings van hoe hulle Marguerite wil grootmaak. “Vir my en Enelle is dit net belangrik dat Marguerite haar eie ding doen en gelukkig sal wees daarmee, wat dit ookal mag wees. Ons wil haar nie in ’n rigting in druk of druk op haar plaas om iets te word wat sy nie wil wees nie. My wens is dat sy ’n gelukkige en gebalanseerde lewe het.”
En kan ons binnekort nog ’n lid van die Du Preez-gesin verwag? “Ja, verseker wil ons nog kinders hê, maar vir nou geniet ons eers net vir Marguerite en die hele ouer-wees proses!”