‘n Bloem violis se storie van hoop

0
‘n Bloem violis se storie van hoop

Mariné Jacobs

Refiloe Olifant se storie is een wat jou maklik laat sluk aan die knop in jou keel. ‘n Meisie wat grootgeword het in ‘n informele nedersetting buite Bloemfontein en uiteindelik sy-aan-sy saam met een van die wêreld se beste violiste gespeel het. Maar nee, sê Olifant. Haar storie is een van deursettingsvermoë, harde werk en elke geleentheid aangryp wat na jou kant toe kom.

Olifant het onlangs saam met Joshua Bell, wat tans as een van die beste violiste ter wêreld geag word, opgetree. Sy en Bell het die Bach dubbel-konsert saam met die Stellenbosch Camerata uitgevoer. “Dit was so ‘n belewenis om saam met hom te speel!” vertel sy opgewonde. “Hy is so ‘n plat-op-die-aarde mens. Hy het my heeltyd halfpad ontmoet, en my nooit laat voel asof ek die student is en hy is hierdie groot violis nie. Ons het net hierdie wonderlike kommunikasie gehad wat op musiek gebasseer was.”

Olifant was net agt jaar oud toe sy deel geword het van die Bochabelo Strykersprojek wat deur Peter Guy gestig is. Alhoewel sy groot geword het in ‘n gemeenskap waar klassieke musiek ‘n onbekende verskynsel is, het Guy iets in haar gesien. “Oh my gosh… ek weet nie eers hoe om dit te beskryf nie,” sê Olifant. “Die Bochabelo Strykersprojek is die beste projek in die wêreld! As ek nie in so grondige plek begin het, vir Peter Guy ontmoet het en die geleenthede gekry het wat ek het nie, sou ek nooit gewees het waar ek vandag is nie. Ek sou nêrens opgeëindig het.”

Alhoewel Olifant se pad ‘n moeilike een was, kon ‘n mens al van vroeg af sien dat sy vir groot dinge bestem is. In 1998 het sy die leier van die heel eerste Bochabelo Strykorkes geword en in 2001 aan die Nasionale Sanlam Musiekkompetisie deelgeneem. Vandaar het Olifant geweet dat die musiekgogga behoorlik gebyt het. Verskeie orkeskursusse, orkesfeeste, kamermusiekfeeste en toere het gevolg. In 2005 het sy as solis saam met die Odeion Sinfonie opgetree en in 2007 saam met die Johannesburgse Filharmoniese Orkes.

Tans is sy ‘n voltydse lid van die KwaZulu-Natalse Filharmoniese orkes. “Ek wil egter volgende jaar my diploma in Uitvoerende Musiek aan Stellenbosch Universiteit doen,” vertel Olifant. “Ek het nie eers ‘n musiekgraad of enige iets nie en almal van ons [musikante] sal op die ou einde in ‘n orkes opeindig. So ek wil nou terwyl ek jonk is kanse vat en nie vasgehou word deur ‘n orkespos nie.” Verder vat sy nou net die toekoms soos hy kom, sê sy. Maar haar reis tot hier vergeet sy nooit.

No posts to display