’n Aand met pragtige musiek

0
1373
Teresa de Wit

Die Odeion School of Music aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), bied eersdaags ‘n Liedereuitvoering (Lieder Recital) aan.

Musiekliefhebbers kan uitsien na ‘n aand gevul met niks anders nie as lieflike musiek wanneer die fluweelstem van die ervare mezzosopraan, Teresa de Wit, begelei word deur die pianis Lesley-Ann Mathews.

Teresa het haar BMus-, BMusHons- en MMus-graad cum laude behaal aan die UV. Sy het ook in 2009 haar lisensiaat in sang (Performer’s Licentiate) aan Unisa verwerf. Sy het haar operaloopbaan aan die Kaapstadse Opera-ateljee begin en later aangesluit by die Mimi Coertse-swartdasensembleoperagroep.

Teresa het ook die geleentheid gehad om haar meestersklasse aan die Mozarteum Universiteit Salzburg te volg en tree meestal op in operas, konserte en oratoria. Sy het onlangs opgetree by die Verdi Gala-konsert in Das Lied von der Erde van Mahler. In haar roemryke sangloopbaan het sy reeds opgetree in konserte regoor Suid-Afrika, Kenia, Nigerië, Namibië en Zambië.

Sy het ook rolle vertolk in verskeie operas en operettes in haar loopbaan as mezzosopraan, onder meer in Carmen, La Traviata, Die Barbier van Seville, Le Nozze di Figaro, Cosi fan Tutte, Cavalleria Rusticana, Martha, Alcina, The Bartered Bride, Hänsel und Gretel and Madama Butterfly.

Ander werke sluit in die Messias van Handel, Gloria van Vivaldi, Mozart se C Minor Mass, La Petite Messe Solenelle van Rosinni, Mozart se Requiem, die Nelson Mass van Haydn, Feel the Spirit van John Rutter, Stella Natalis en The Armed Man van Karl Jenkins. Die pianis, Lesley-Ann Mathews, het haar BMusgraad in klavier in 2002 aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys voltooi .

Sy het haar MMusgraad in kamermusiek aan die UV onder leiding van Albie van Schalkwyk behaal. In 2005 het sy ‘n begeleier by die UV geword en opgetree as begeleier en répétiteur vir verskeie aanbiedings en feeste by die universiteit.

Lesley is ‘n lid van die Odeion School of Music Camerata (UV) en die Cathedral Mozart Players as violis. Die twee talentvolle musici gaan liedere van Johannes Brahms, Benjamin Britten, Erik Satie, Reynaldo Hahn en die Zigeunerlieder van Antonín Dvorák uitvoer.

Lesley-Ann Mathews

Die vertoning vind plaas op 3 Junie 2021 om 19:30 by die Geloofsentrum in Universitas (Straussstraat 12). Kaartjies kos R75 elk en is beskikbaar by Computicket. Daar kan ook by die deur betaal word.

Corn Koteli

tshehla@mahareng.co.za