My Way!

0
525

Seker een van die bekendste liedere in die jare wat verby is, is dié van Frank Sinatra, “I Did It My Way!” Dit is ’n lied wat my laat dink aan jou en my lewe. Ons hele lewe is vol van besluite en optredes wat iets vertel van ons keuses en ons voorkeure. Ons wil graag in beheer wees en onsself laat geld. Tog gaan dit in die Bybel oor God se wil. In Psalm 40:9 lees ek: “Om u wil te doen, my God, is my een begeerte”. In ons verhouding met die Here is ons wil nooit bepalend nie. Ons behoort ons voorkeure aan God te onderwerp. Is dit nie wat Jesus in Getsemane gedoen het nie? “Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” Die wonderlike van dié gesindheid is dat ons ’n rustigheid in ons besluite kan ervaar. Ons kan dus vrede kry oor ons keuses en besluite, want dit gaan nie oor ons nie, maar oor God se wil. Dit is om elke dag bewustelik te kies om te soek na God se wil. Dit is ook wanneer jy besluit om jou eie ding te doen, te besef dat ons hier op aarde is om na God se wil te vra. Dalk weer te besin en oor te kies en nuut te kies, met die woorde: “Here, laat u wil geskied!”

Ds. Stephan van Heerden

* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale sielkundige.