Musiek praat wanneer woorde ontbreek

0
409
Leevona Pitout FOTO: GERDUAN KEMP

Musiek is die antwoord op alles. Dit volgens Leevona Pitout, Bloemfonteinse sangeres wat reeds van agtjarige ouderdom af sing.

Die 26-jarige country/oldies-sanger is in die Rosestad gebore en getoë. Bedags is sy aktetikster en oor naweke sing sy haar hart uit. Sy vertel aan Bloemfontein Courant hoedat sy as dogtertjie net een liedjie gesing het, “You light up my life”, en dat dit vir haar ‘n doelwit was – sy wóú daardie liedjie ken. “Ek wou hê dat ek selfs as iemand my in die oggend om drie uur wakker maak en sê ‘sing’, ek dit sou kon doen. My ouers het daar en dan besluit om my in ‘n sangskool in te sit en die res is geskiedenis,” sê sy.

Vir Leevona is musiek die antwoord op alles. Musiek dra vir haar ‘n boodskap oor waarvoor mens nie self altyd die woorde het nie. “Wanneer ek gelukkig is, luister ek musiek. Musiek bring nuwe hoop. Dit bring vrede. Geluk. Die lys gaan aan. Ons sou ‘n verskriklike vervelige lewe gehad het as dit nie vir musiek was nie,” sê sy.

Leevona het aan die begin van 2021 haar debuut-enkelsnit, “Volgende lewe”, vrygestel. Die enkelsnit is tans beskikbaar op alle digitale platforms en ‘n musiekvideo is ook op YouTube vrygestel.

Die talentvolle musikant werk tans aan ‘n nuwe enkelsnit en beoog om hiermee groter te gaan as met haar vorige enkelsnit. Leevona se droom is dat sy raakgesien sal word deur ‘n platemaatskappy. “Ek sou bitter graag ‘n album wou uitbring. Dis iets wat ek altyd sal hê en kan koester. Dit sal iets wees om na terug te kyk as ek eendag oud en lelik is,” sluit sy af.

Vir besprekings, stuur ‘n e-pos na bookings.artistleevona@gmail.com

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za