Musiek ‘n uitdrukking van haar menswees

0
557
Cobie du Plessis

Sangeres en pianis Cobie du Plessis, wat die afgelope 22 jaar in die musiekbedryf is, beoog om in hierdie stadium van haar lewe ‘n persoon of twee te inspireer om hul talente te gebruik.

Du Plessis spog met ‘n indrukwekkende musiekloopbaan. Sy het selfs oorsee getoer met haar musiek. Oorspronklik het sy vir ‘n rukkie musiek studeer aan Kovsies, maar vining verander na Argitektuur en haar B.Arch-graad behaal. Ná 15 jaar in die argitektuuromgewing is sy na Griekeland waar sy saam met die groep, Viva las Divas, onder Remarc op die eilande Kos en Corfu gesing het.

“Ons het vir agt maande lank opgetree in 170 vertonings. Hier het ek gesien hoe hard musiek kan wees. Die see was pragtig en die mense vriendelik, maar ná ‘n paar maande het ek Suid-Afrika begin mis,” vertel Du Plessis.

Du Plessies het ‘n groot liefde vir elektroniese musiek soos Portishead, Agora, Massive Attack en Pink Flloyd. Sy het ook haar eie kanaal op YouTube onder Cobie du Plessis waar belangstellendes verniet kan inskryf en luister. “My gunsteling-liedjie op my kanaal se naam is ‘That’s All’ – dit is net ‘n demo, maar lê om een of ander rede my na aan die hart.”
Die 40-jarige musikant is heelwat rustiger deesdae en fokus daarop om mooi musiek te skryf. Haar doel is om by mooi plekke op te tree en in die proses ‘n ander musikant of twee te inspireer om hul talente te gebruik en hulself te wees.

“Musiek is vir my ‘n lewenslange vriendin en ek het deur haar ongelooflike musikante en vriende ontmoet. Ek dink ons almal moet uitdrukking gee aan ons wese en só gesond bly. Almal doen dit op hul eie manier; musiek is myne,” sluit sy af.

Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za