Musiek is haar woordeskat

0
1067
LIV DIE

Musiek skryf en sing is haar “Happy Place”, vertel LIV DIE. Dié talentvolle en unieke kunstenaar komponeer musiek vir so lank as wat sy kan onthou. Van haar eerste liedjie af, wat sy op die ouderdom van sewe geskryf het met net ‘n klawerbord en ‘n herhalende deuntjie, tot nou toe, weet sy dat die musiekbedryf vir haar is.

“Ek is tevrede as ek skryf, sing, uiting aan my emosies gee en dit deel met almal wat luister. Musiek is lewe en ek streef daarna om met elke liedjie ‘n warm en verwante ruimte te skep vir die wat dit nodig het. Musiek is my nie-oordeelkundige vriend,” sê LIV DIE.

Die 26-jarige sangeres en liedjieskrywer noem die Stad van Rose haar tuiste vir die afgelope vyf jaar, hoewel sy gebore en getoë is in Paarl. Volgens haar was Bloemfontein in ‘n stadium een van die kunshoofstede van Suid-Afrika en sy wou kom kyk waarom dit so is.

Sy beskryf haarself ook as ‘n eksperimentele kunstenaar. “My klank is baie afhanklik van wat ek skryf en die boodskap wat ek wil oodra, ongeag die genre.”

LIV DIE is welbekend vir haar optredes oral in die stad – van kroeë en feeste, tot YouTube en Facebook.  Sy het ook ‘n hele paar oorspronklike liedjies uitgereik en gebruik die inperkingstyd om uiting te gee aan haar kreatiwiteit en nog te skryf.

Vir meer oor die kunstenaar, volg LIV DIE op Facebook en Instagram, of stuur ‘n e-pos vir besprekings na livdie.musician@gmail.com

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za