MARICELLE BOTHA
’n Groep spesiaal verkose jong leerders van Heidedal het die afgelope week deelgeneem aan ’n skoolvakansieprogram by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) en Oliewenhuis Kunsmuseum. Die program wat saamgestel was uit ’n gekombineerde aanbieding van beeldende kuns en letterkunde het ten doel gehad om hierdie kinders aan die verskillende beroepsmoontlikhede binne die kunste bloot te stel. Verskeie onderwerpe is tydens die program aangeraak waaronder hoe ’n museum werk asook hoe kuns en skryf ’n besonders terapeutiese middel kan wees.
Leeders kon egter ook self hul eie kreatiwiteit uitleef in praktiese werksessies wat die maak van mosaïek, verf en teken ingesluit het. Vyftien leerders is geïdentifiseer vir die program nadat hulle deur die loop van die jaar nou betrokkenheid en entoesiasme getoon het by gemeenskapsprogramme wat deur Heatherdale Diakonale Dienste en Aurora in die Heidedal aangebied is. Hierdie programme wat reg deur die jaar plaasvind, het ten doel om dwelmisbruik en jeugmisdaad te bekamp.