Museum gee geleentheid vir persone met gestremdhede

0
1032
Dewald Hattingh maak vir die eerste keer kennis met 'n seekoei

Die Nasionale Museum in Bloemfontein bied elke jaar hierdie tyd iets aan ter viering van Internasionale Dag vir Persone met Gestremdhede. Hoewel 2020 vir die museum ook baie uitdagings gebring het, is daar steeds besluit om iets spesiaals aan te bied om die dag vir gestremde persone in Bloemfontein kosbaar te maak deur ‘n tydelike uitstalling.

Die hoof van die Soogdierkunde Departement, Nico Avenant, het verduidelik dat hulle hierdie jaar besluit het om persone met gestremdhede, asook een versorger, gratis toegang te gee tot die museum om ‘n besoek te bring en die museum se nuwe uitstalling te ervaar.
Avenant sê dat die toegewing sal geld tot 10 Januarie 2021 omdat dit veral gedurende die vakansie stiller is en daar geen groot groepe is wat die museum besoek nie. Hulle hoop om persone met gestremdhede te laat welkom voel om die museum òf alleen te besoek, òf saam met familie of vriende.

“Hierdie tydelike uitstalling kombineer goed met ‘n aantal uitstallings wat reeds in ons permanente uitstallingsale is en gerig is op persone met verskillende gestremdhede.”
Volgens hom is gidse spesiaal opgelei om mense te vergesel, hulle ‘n geleentheid te gee om spesifieke kaste oop te maak en by wyse van aanraking te bepaal wat in die kaste is.
“Alle besoekers kan ervaar hoe taai die vergrote 3D-afdrukke van mikroskopiese diere voel en “sigbaar” word vir almal, insluitend blindes en ander gestremdes.”

De uitstalling is spesifiek gefokus op bewusmaking van die Internasionale Dag vir gestremdes. Alle persone met gestremdhede is welkom. Daar is rolstoelgeriewe, ‘n hysbak vir diegene wat dit benodig en die ervaring sal veral vir persone met sigprobleme iets besonders wees. “Mense kan soveel tyd spandeer as wat hulle wil by die uitsallings, maar binne amptelike besoektye. Daar moet net ‘n afspraak gemaak word as ‘n gids bespreek moet word en indien siggestremde persone graag aan van die eksemplare wil vat,” sê Avenant.

“Ons besoekers se veiligheid is ‘n prioriteit. Slegs ‘n beperkte aantal besoekers word toegelaat in die museum. Aangesien daar oor die vakansie geen groot groepe die museum besoek nie, is hierdie ‘n ideale geleentheid vir enige gestremde persoon om so Internasionale Dag vir Persone met Gestremdhede te vier.” Om ‘n gids te bespreek kontak 051-447-9609.

Sazly Hartzenberg sazly

@centralmediagroup.co.za