54 39 28 dui allermins op ’n eienaardige uitkoms van ’n pot tennis, maar daar sal na verwagting net meer as 54 000 geel tennisballe tydens Wimbledon 2016 gebruik word en die 39 000 besoekers elke dag van die 14 dae van die byeenkoms sal na verwagting 28 000 kg se aarbeie geniet.
Wimbledon 2016 is nie net die belangrikste gebeurtenis op die Engelse sport kalender, dit is die grootste spyseniering geleentheid in Europa (volgens die rekords word Engeland nog as deel van Europa geklassifiseer). Tussen ’n verskeidenheid onsekerhede van onbepaalbare omvang en impak het die Britte die afgelope paar dae verenig in steun vir Andy Murray. Met Brexit ’n voldonge feit, was Wimbledon vanjaar so ’n effense lig in die tonnel, want die Britse ekonomie steier nou ’n week ná die uitkoms van die onverwagse uittree-stem van 24 Junie. Verbruikersvertroue het die skerpste daling getoon in meer as 2 dekades en verbruikers oordeel spaar is nou beter as spandeer. Britse banke oorweeg drastiese dalings in rente koerse as maar net een van die medisyne om ’n resessie te keer. Dié ten gunste an Brexit wou werkgeleenthede vir die Britte beskerm, maar binnekort kan werkgeleenthede totaal verdwyn tensy die ekonomie kan draai.
Ten spye van hierdie en ander woelinge het Wimbledon 2016 weer verwagtinge oortref. Die impak van hierdie groot gebeurtenis strek uiteraard baie verder as net die tennis en veral die bevoordeling op plaasvlak is noemenswaardig. Die nagenoeg 28 ton aarbeie is afkomstig van Kent en word daagliks en vroegdag vars gepluk om 7 ure later teen 5:30 aflewer te word waar elke vrug met die hand inspekteer en in sowat 112 000 houers verpak word. Elke houer het gemiddeld 10 aarbeie. Tradisioneel word vars room saam met hierdie aarbeie bedien en daarvoor word nagenoeg 7 000 liter room gebruik. Dié hoeveelheid room is afkomstig van nagenoeg 200 000 liter melk van net meer as 300 koeie per dag vir 14 dae. Die prys per bakkie aarbeie met room is 2.5 Britse Pond of nagenoeg R50. Tee en koffie is ewe groot gunstelinge en The Daily Express berig dat meer as 300 000 koppies tee en koffie geniet word. Daarbenewens word 250 000 bottels water, 207 000 maaltye, 190 000 toebroodjies, 15 000 piesangs, 20 000 porsies bevrore jogurt en bykans 12 ton verwerkte salm verbruik. Die toeskouers les hulle dors met meer as 200 000 glase Pimm’s – ’n tradisionele Engelse mengeldrankie en meer as 50 000 liter bier. Wimbledon skep werk en sowat 1 800 personeel wat sorg vir spys en drank. Daarbenewens is daar ook honderde vrywilligers wat help om die byeenkoms glad te laat verloop.
Alles in ag genome bly dit uitsonderlik en die impak wat dit het op die ekonomie van Londen is enorm, veral as die rugwaartse begunstiging van aarbeie in ’n bakkie tydens tennis tot die verskillende Engelse plaashekke verreken word. Murray se oorwinning is gevier met stygende verkope van bier en wyn van meer as 20% en toeskouers het tennis gekyk in die baie kroeë en nagenoeg 70 miljoen Britse pond daar spandeer, aldus The Sunday Telegraph. – Dr. Kobus Laubscher