In die Suid-Vrystaatse mans ope meesters, presidente en senior meesters, wat die afgelope naweek op die perke van Oud-Studente, Orangia en Hillandale in Bloemfontein plaasgevind het, is die 12 top-spelers in elke kategorie genooi om deel te neem. Die gevolg was dat die mededinging deurgaans taai was en goeie spel gelewer is.
Die spelers in elke kategorie is in twee afdelings van ses elk verdeel wat op ’n rondomtalie-basis meegeding het om die uiteindelike wenners te bepaal.
Die wedstryde in die eindrondtes is op die perke van Oud-Studente beslis.
Die afdelingwenners, wat sake in die mans ope uitgespook het, was Wayne York van Munisipaliteit wat teen sy klubmaat, Roe Wiid, te staan gekom het. Ná ’n taai stryd is York as kampioen gekroon.
In die presidente meesters was dit Herman Kleynhans van Munisipaliteit wat Peet Visagie van Weermag in die eindstryd gepak het. Kleynhans het as wenner uit die stryd getree.
In die senior meesters het Sol Lubbe van Munisipaliteit teen Piet Potgieter van Aliwal-Noord te staan gekom en Lubbe het as die wenner uit die stryd getree.
Dit beteken dat Munisipaliteit al drie die titels verower het.
Verlede week het Courant verkeerdelik berig dat Clinton Roets van Hilton as die Victor Ludorum van Suid-Vrystaat aangewys is. Dit was inderdaad Hertzog Meiring van Munisipaliteit wat die toekenning ontvang het.