Die Suid-Vrystaatse viere-toernooi vir mans en vroue het die nuwe seisoen op die perke van die Munisipaliteit Rolbalklub in Westdene ingelui.
Munisipaliteit het sy tuisbaan-voordeel behoorlik benut en spanne van die klub het uitstekend gevaar.
Die toernooi is oor twee naweke beslis en die afdeling-wenners is met die eerste naweek se spel bepaal. Opwindende spel is gelewer en die span van Gariep-sone, P. van Niekerk, R. Buchanan, A.
Hodgson en S. Thompson, het ’n opskudding verooraak deur die sterk span van Hilton onder aanvoering van die Protea-speler, Clinton Roets, te klop om die halfeindrondte te haal.
Die Gariep-manne het toe te staan gekom teen ’n Munisipalteit-span bestaande uit Herman Kleynhans, Handre Marais, Phil Kaiser en Pieter Smuts. Hoewel Gariep weer stywe teenstand gebied het, het Munisipaliteit deurgedring na die eindrondte.
In die ander halfeindstryd het ’n span van Oud-Studente, Tewie Wessels, Fred Kruger, Hugh-Hendrik van der Watt en Hugh van der Watt, ook ’n viertal van Munispaliteit onder aanvoering van nog ’n Protea, Hertzog Meiring, gepak. Meiring, wat bygestaan is deur Henry Biermann, Vusi Mphale en Jannie du Plessis het die knoop deurgehaak om na die eindstryd deur te dring.
Die twee manspanne van Munisipaliteit wat mekaar gepak het om die wenner te bepaal, het spel van hoogstaande gehalte gelewer voordat Hertzog se span gewen het.
In die vroue-afdeling het die spanne ook uithalerspel opgedis om opwinding te verseker. In die eerste halfeindstryd het Mariane Key, Pam Perry, Rona du Toit en Annetjie Venter van Munisipaliteit die span van Aliwal-Noord, Rika Kotze, Lizelle van Zyl, Elsa Greyling en Niekie Britz. uitgeskakel.
Nog ’n span van Munisipaliteit, Brunie Gerber, Lara York, Annelize Wiid en Jessica Marais het teen ’n Gariep-sonespan, (E. Hodgson, J. van Schalkwyk, C. van Niekerk en E. du Toit) te staan gekom. Hier het Brunie se Munisipaliteit span ook geseëvier.
In die eindstryd het Brunie se Munisipaliteit-span met die titel weggestap.
Die rolbalspanne van Munisipaliteit het die toon aangegee in die Suid-Vrystaatse Ope viere. Vier spanne van die rolbalklub in Westdene, Bloemfontein het sake in die eindstryde uitgespook. In die mans-afdeling het die span van Hertzog Meiring koning gekraai.Die wenspan is van links: Vusi Mphale, Jannie du Plesssis, Henry Biermann en Hertzog Meiring.