Multisport in Vrystaat was hoogs kompeterend

0
941
RUFUS BOTHA 

Praat jy van multisportsoorte in die Vrystaat is die aanknopingspunt gewoonlik die naam Kate Roberts. Dit is logies, want sy is die beste vroue-driekampatleet wat die Rosestad, Vrystaat en Suid-Afrika nóg opgelewer het.

Hoewel hierdie driemaal Olimpiese Spele-deelnemer en oudskolier van Eunice nie haar beste jaar op internasionale vlak in 2014 beleef het nie, was sy steeds die beste multisportatleet (driekamp) in die Vrystaat.

Beserings het die aanvallige Roberts gery, maar haar veggees het haar steeds ‘n plek in die Suid-Afrikaanse span vir deelname aan die Statebondspele (Glasgow) besorg.

Sy het ondanks ‘n moeilike rehabilitasieproses vir haar beserings steeds ‘n goeie 14de plek losgeswem, getrap en gehardloop. O ja, die plek sou heelwaarskynlik onder die voorste ses gewees het indien sy nie hard geval het in die fietsryskof in Glasgow nie.

Haar veggees en wil om goed te doen vir Suid-Afrika, ook in spanverband, het haar handig te pas gekom toe Suid-Afrika verrassend die silwermedalje in die spankompetisie gewen het.

Steeds by driekamp – Bloemfontein se twee puik jeugatlete – Jayme-Sue Vermaas (Oranje) en Madelaine le Roux (Sentraal) het ook die land verteenwoordig by onderskeidelik die Olimpiese Spele (Nanjing, Sjina) en die wêreld-juniorkampioenskap in Kanada.

Vermaas is gekroon as die Afrika-driekampvereniging (ATU) se kampioen in Zimbabwe, terwyl Le Roux hier vierde was. Na ‘n paar interessante tweestryde tussen Vermaas en Le Roux het Driekamp Suid-Afrika (TSA) besluit dat Vermaas ‘n die aangewese een sou wees om die land by die Nanjing-jeugspele te verteenwoordig. Sy het 18de geëindig nadat sy ook in ‘n fietsongeluk betrokke was, maar steeds die wedloop voltooi het.

Le Roux het die Afrika-jeugspele-titel gewen en het as jeugatleet teen die beste juniors by die wêreldbyeenkoms in Kanada aangetree. Hier het sy 46ste klaargemaak.

In die biatlhe-multisport het twee Bloemfonteiners, Teresa Richards en Berend Burger, geskiedenisboeke herskryf by die wêreldkampioenskap wat in Gautemala beslis is. Albei het Suid-Afrika verteenwoordig in onderskeidelik die seniormans- en seniorvroue-afdelings waar hulle 1500m-hardloop, 200m-swem en weer 1500m-hardloopskofte moes aandurf.

Burger en Richards, wat onlangs hulle Proteakleure vir dié sportsoort ontvang het, het albei die genoemde wêreldtitels beklink. En, dit was die eerste keer in die geskiedenis van die wêreld-biathle-kampioenskap dat die seniormans- én seniorvroue-wenner afkomstig is van dieselfde land, provinsie en stad.

Richards is vroeër vanjaar ook gekroon as Suid-Afrika se beste (alle ouderdomsgroepe) tweekampatleet. Sy moes in in haar afdeling eers 1000m hardloop en na ‘n rusperiode 100m swem. Punte word toegeken na aanleiding van tye behaal in die hardloop en swemnommers. Sy het met haar blitstye die meeste punte by die kampioenskap verdien.

Burger het in Moderne Vyfkamp (ruiterkuns, skerm, swem, pistoolskiet en hardloop) ook ‘n goeie seisoen beleef. Hy het by internasionale byeenkomste op die podium verskyn by die Nederland- en Kazakhstan- ope kampioenskap.

Burger het ook die Groen-en-Goud gedra by die wêreldkampioenskap.