‘Muito Obrigado’ aan ‘n unieke stad

0
903

Dit is af en toe nodig om uit jou gemaksone te kom. Een manier om dit te doen, is om jouself te dwing om soms besoek af te lê by vreemde plekke wat nie op jou kortlys van droombestemmings is nie.
Ek het onlangs vir my seun, Marco, wat in Beira werk, gaan kuier. Beira is ‘n kusstad in Mosambiek, sowat 1,200 km noord van Maputo.
Kom ons sê dit maar reguit vir mekaar: Dit is nie jou tradisionele toerismebestemming nie. Maar juis dít gee aan hierdie stad, met sy nagenoeg halfmiljoen inwoners, ‘n unieke karakter. Jy voel nie soos ‘n toeris wat om elke hoek en draai uitgebuit word nie.
Die feit dat my seun vlot Portugees praat – waarop sy pa baie trots is – maak natuurlik ‘n groot verskil. Want met Engels kom jy nie ver nie.
Marco het lekker gelag toe ek hom vertel van my poging om een oggend self ontbyt by ‘n kroegie langs die strand te bestel. Ek dag ek vra vir ‘n toebroodjie met avokadopeer op. In hierdie sub-tropiese omgewing, waar avo’s aan elke derde boom hang, kan “ovo” op die spyskaart tog net een ding beteken.
Toe bring hulle vir my ‘n reuse-hamburger met ‘n eier bo-op. “Where is my ovo?” vra ek teleurgesteld. Die kelner druk sy vinger amper binne-in die eier. “Ovo!” sê hy. Toe mompel ek maar net dankie in Portugees. “Obrigado” is al woord wat ek ken.
Beira se strande en unieke vuurtoring, met die twee skeepswrakke daar naby, is ‘n bekende baken. ‘n Mens kan lang ente langs die see stap sonder om onveilig te voel. Die besige hawe is ook ‘n besoek werd. Beira se hawe is die invoerpoort vir Zimbabwe, Zambië en Malawi. Daar is ook die geskiedkundige standbeeld van Mosambiek se eie Madiba, Samora Machel, op die stadsplein. En dan natuurlik die pragtige Our Lady of the Rosery-katedraal, wat byna 100 jaar oud is.
Maar die wonderlikste van alles was om ‘n hele week lank by my Beira-seun te kon kuier. Geen besienswaardigheid kon daarby kers vashou nie.

ALBÉ GROBBELAAR