MS-lyers vier die lewe met valskerm-spronge

0
765

CHRISTAL-LIZE MULLER

Meervoudige sklerose-lyers van die Vrystaat het gister ‘n boodskap uitgestuur dat hulle nie gaan wegkruip nie, maar eerder voluit gaan leef ondanks die siekte. Vyf vroue het gister uit dankbaarheid dat hul nog liggaamlik beweeglik is, valskerm gespring by die Tempe-lughawe buite Bloemfontein. Elna van Schalkwyk, ook ‘n MS-lyer en verteenwoordiger van die vereniging in die Vrystaat, sê hul tandem-valskermspronge by Skydive Central was ter bewusmaking van die siekte en om geld in te samel vir MS-lyers.

Anneke Olivier, ‘n MS-lyer van Behulie wat onlangs saam met twee vriendinne altesaam 873.5km te voet van haar tuisdorp na Kaapstad afgelê het ter bewusmaking van MS, was gister deel van die waaghalsige groep. Olivier sê om valskerm te spring was op haar moet-doen-lysie.

Olivier sê sy wil binnekort begin oefen om volgende jaar aan die Comrades-ultramarathon deel te neem.

Vir meer inligting oor die siekte of vir ondersteuning skakel 021-948-4160.