Mpitsang met groot KSA-pos verbind

0
542
Die voormalige Vrystaat- en Proteas-snelbouler, Victor Mpitsang, is tans die sameroeper van keurders vir die o.19- nasionale span en ook 'n krieketkommentator. FOTO: SYDNEY SESHIBEDI

Die voormalige snelbouler van die Proteas en Vrystaat, Victor Mpitsang, is volgens berigte die voorloper om aangewys te word as sameroeper van keurders vir die Suid-Afrikaanse nasionale manskrieketspan, iets wat binnekort kan gebeur.

In dié stadium vervul Linda Zondi die rol as waarnemende sameroeper van keurders, maar Krieket Suid-Afrika sal binnekort ‘n permanente aanstelling doen. Zondi, wat in die verlede die rol vervul het, het aangedui dat hy graag wil voortgaan in die pos.

Mpitsang, wat sedert sy uittrede uit eersteklas-krieket as kommentator werk, is die huidige sameroeper van keurders vir die o.19- nasionale span en is ook genader om by die Proteas se senior span oor te neem.

Dit is egter onduidelik of Mpitsang om die pos wil aansoek doen. As speler het dié oud-Grey sy nasionale buiging in 1999 gemaak, en op 18 jaar en 314 dae is hy steeds die jongste speler ooit om vir die Proteas te speel. Sy buiging was in Bloemfontein teen die Wes-Indiese Eilande, en hy het die paaltjies van Nixon Mclean en Darren Ganga laat kantel vir ‘n boulontleding van 2/49. Hy het egter net een ander wedstryd vir Suid-Afrika gespeel en dit was in September van dieselfde jaar teen Kenia in Nairobi.

Die pos as hoofafrigter van die nasionale vrouespan sal ook geadverteer word, asook bestuursrolle in die span. KSA is ook op soek na ‘n moontlike nuwe afrigter vir die SA o.19-span.

Op die oomblik is Hilton Moreeng in beheer van die Proteas-vroue, terwyl Lawrence Mahatlane die afgelope tyd die hoofafrigter van die Junior Proteas was.

Die tussentydse direkteur van krieket, Graeme Smith, het aangedui dat al hierdie poste geadverteer sal word.

“Ons sal daardie poste adverteer, want dit is die proses wat binne Krieket Suid-Afrika gevolg word. Dit sal ook geld vir ander spanne soos die onder-19’s asook, vrouebestuur en -afrigting.

“Dit keer niemand wat tans in daardie poste staan om ook hul naam in die hoed gooi nie.”

Smith self sal moontlik die week as voltydse direkteur van krieket aangestel word. Die waarnemende uitvoerende hoof van die CSA, Jacques Faul, het verlede week bevestig dat hulle in gevorderde onderhandelinge met Smith is, en ‘n aankondiging kan die week verwag word. – MORGAN PIEK