Motordiewe ‘laat wiel’ behoorlik in Bloemfontein

0
1494
Pierce van Heerden en Liezl Magson, wat albei onlangse slagoffers van motordiefstal in Bloemfontein was. FOTO: SAZLY HARTZENBERG

Die Rosestad is deesdae berug vir die baie gevalle van motordiefstal wat hier plaasvind. Dit kom nadat verskeie motoreienaars deurgeloop het in verskillende dele van die stad.

‘n Inwoner van Langenhovenpark, Liezl Magson, het verlede Vrydag by vriende in Hospitaalpark gaan kuier.

Sy vertel dat sy haar motor in die straat parkeer het en toe sy teen 23:00 wou huis toe gaan, sy tot haar groot verbasing besef het dat haar motor net eenvoudig “verdwyn” het. Magson het die diefstal by die Bainsvlei-polisie gaan aanmeld en wag steeds op nuus oor haar motor.

‘n Paar weke voordat Magson se motor gesteel is, was ‘n Bloemfontein Courant-joernalis, Pierce van Heerden, ook ‘n slagoffer van motordiefstal. Hy vertel dat hy sy motor slegs twee weke gehad het en nog besig was om ekstra dingetjies aan sy ryding te doen. Hy en ‘n vriend het besluit om op Werkersdag iewers iets te gaan eet. Hulle het ‘n eetplek net na sewe die aand in Tweede Laan besoek.

Hy het seker gemaak dat sy motor reg gesluit is en hoewel hy opgemerk het dat daar nie motorwagte was nie, het hy niks daarvan gedink nie. Van Heerden vertel toe hulle terugkom by die parkeerplek waar hy gestop het, iemand anders reeds die parkeerplek beset het. Die persoon het gesê daar was geen ander motor geparkeer toe hy daar aangekom het nie. “Ons het op een van die winkels se kameras gesien hoe ‘n man met my kar wegry, maar kon nie sy gesig sien nie.”

Polisiewoordvoerder, Thabo Covane, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle op die oomblik met meer en meer sake soos hierdie te doen kry. Die polisie doen ‘n beroep op die gemeenskap om hulle te help deur hul eiendom te beveilig.

“Die polisiehet al verskeie kere gepraat oor die feit dat die publiek dikwels sagte teikens is en eerder “harde” teikens moet wees. Dit beteken hulle bedag moet wees en nie geleenthede moet skep vir misdadigers om misdaad soos onder meer diefstal van voertuie sowel as artikels uit voertuie te pleeg nie. Hy sê verder dat die polisiekantore in die Parkweg-groep ook nou besig is met talle misdaadbewusmakingsveldtogte

“Mense word aangeraai om nie hul voertuie in afgeleë, onbewaakte en donker plekke te parkeer nie. Eienaars word ook aangeraai om hul voertuie behoorlik te sluit, selfs wanneer die voertuig ‘n sentrale sluitstelsel het,” sê Covane. – Sazly Hartzenberg sazly@centralmediagroup.co.za