Motheo- en Gariepstreek se jong atlete voorspel goeie toekoms

0
729
Janco Mollentze (Fichardtpark) is hier op pad om die byeenkomsrekord in die hoogspring vir seuns 14 jaar te verpletter by die Motheo- en Gariepstreek se atletiekkampioenskappe vir hoërskole. Hy het sierlik oor die dwarslat geseil met 'n byeenkomsrekortd van 1,77 m. FOTO: ACTION PHOTOS

Hoewel daar heelparty skitterende vertonings in alle ouderdomsgroepe by die Motheo- en Gariepstreek se atletiekkampioenskappe vir hoërskole in Bloemfontein was, het atlete in die jongste ouderdomsgroep, 14 jaar, gewys dat ‘n rooskleurige toekoms op hulle wag.

In dié ouderdomsgroep, was Janco Mollentze (Fichardtpark) se veelsydigheid, Danita du Plessis (Sentraal) se gewigstootafstand en Charné Wansbury (Oranje) se goue driekuns in die naellope iets om oor te droom vir die toekoms.

Mollentze het met sy uitmuntende veerkag die hoogspring met ‘n byeenkomsrekord (1,77 m) gewen en toe sy vaart onderstreep deur die 100 m in ‘n haastige 11,83 sy eie te maak. Hy moes egter hard spook om van die haastige Brandon Mpopo (St. Andrew’s, 11,86) ontslae te raak. Mpopo (23,70) verhang egter die bordjies met ‘n goeie oorwinning in die 200 m toe hy ‘n moeë Mollentze (24,71) gerieflik die hakskene wys.

Om die diepte verder te weerspieël, besluit Jacques Pienaar (Sentraal), wat slegs vierde in die 100 m kon eindig, hy het genoeg van Mpopo se rug gesien en hardloop laasgenoemde in die grond in die 400 m. Pienaar wen dié wedloop in ‘n kookwater-byeenkomsrekord (53,98) terwyl Mpopo (55,16) met die silwermedalje tevrede moes wees.

Wansbury het oudergewoonte haar naellooptalent onderstreep deur die 100 m (12,72), 200 m (25,87) en 400 m (60,62) met wegholoorwinnings te beklink.

Du Plessis het die byeenkomsrekord in die gewigstoot met ‘n puik 13,41m agter haar naam geskryf.

Asof dit nie genoeg was nie, steek twee spiesgooiers van die Hoër Meisieskool Oranje in die einste ouderdomsgroep hul hande hoog op as grootse talent vir die toekoms. Germarie Spershot wen dié nommer met ‘n byeenkomsrekord van 39,84 m en haar spanmaat, Miané Smit, (38,19 m) verbeter ook die vorige rekord met haar tweede plek.

Spershot het boonop nóg ‘n byeenkomsrekord verbeter deur die 300 m-hekkies in 46,98 af te blits. Die rekord gaan egter agter die naam van Natasha Gertenbach (Fichardtpark) pryk, want sy het vir Spershot geklop en in 45,60 oor die eindstreep genael.

Gertenbach en Spershot was in die 90 m-hekkies ook haaks. Gertenbach was weer baas met ‘n tyd van 13,93 met Spershot (14,09) ‘n kortkop agter haar.

Die lang en lenige Lize Ackerman (Fichardtpark) het self ‘n goeie goue driekuns behaal in die 800 m (2:27,50), 1500 m (5:10,52) en 1500 m-hindernis (5:41,72). Haar wentyd in die hindernis was ‘n byeenkomsrekord, maar die wedloop was deurgaans in die weegskaal met Carlize Botha (Jim Fouché, 5:46,62) wat haar opdraand gegee het.

Liané Gerber (Jim Fouché) en Amogelang Lobelo (Louis Botha) het ook nie op hulle laat wag met byeenkomsrekords nie. Gerber het die hamergooi (37,11 m) gewen en Lobelo het in die 1500 m-hindernis (4:57,50) koning gekraai. – RUFUS BOTHA