Mostert en Gouws ryg fietsry goud in

0
408
Jeadan Gouws het verlede week by die SASAPD-fietsrykampioenskappe in Stellenbosch uithaler prestaies opgedis en sodoende vier goue medaljes vir die Vrystaat in te oes. Hy het twee baan- en twee padwedrennommers gewen. FOTO: CELESTE KLOPPER PHOTOGRAPHY

Die een jaer is sig- en die ander fisiek gestremd, maar dié twee bobaasfietsryers van Bloemfonteiners, Nielbert Mostert en Jeadan Gouws, skrik nie vir oefen nie en is verlede week by die SASAPD (Suid-Afrikaanse sportvereniging vir sportlui met liggaamlike en visuele gestremdhede)-kampioenskappe in Stellenbosch vir hul harde werk beloon.
Tussen Mostert wat in die T-13-afdeling meeding en Gouws, wat in die T-2-gestremdheidskategorie jaag, het hulle saam nie minder nie as agt (vier elk) goue medaljes vir die Vrystaatspan in hulle onderskeie wedrenne in die 20-jaar-ouderdomsgroep (juniors) ingepalm.
Mostert jaag saam met sy broer, Jan Albert, op ‘n tandemfiets, met laasgenoemde wat voor op die fiets diens doen as “pilot” (loods), soos dit bekend staan in fietsry vir gestremdes. Dit is interessant dat Mostert (Nielbert) en sy broer (Jan Albert) twee van ‘n drieling (seuns) is. Mostert het op die eerste dag van die kampioenskappe die 1000-m-baannommer in ‘n blitsige 1:40,75 gewen en kort daarna die 3000 m afgelê in ‘n eweneens haastige 5:58,29.
Die volgende dag was dit pad toe en Mostert skop af met ‘n tydtoets (6,6 km)-oorwinning in 11:55,14 en volg dit op met sy vierde goud in die lang wedren (26,4 km) in 54:55,05.
Wat egter die langste onthou gaan word van die Mosterts se deelname, was die edele daad wat Nielbert en Jan Albert gedoen het ná hulle laaste wedren. Hulle het ware sportmanskap getoon en hul goue medaljes aan twee van hul mede-deelnemers en spanmaats gegee omrede laasgenoemdes weens ‘n tydsbeperking nie vir medaljes gekwalifiseer het nie.
Die trane het vlak gelê vir menige toeskouers wat dié daad aanskou het, en daar sal nog lank hieroor gepraat word.
Gouws, wat weens sy ligaamlike gestremdheid met ‘n driewielfiets jaag, se opwaartse kurwe die afgelope vyf jaar is iets om oor huis toe te skryf.
Hy het, ondanks griep wat hy kort voor die byeenkoms opgedoen het, ‘n goue vierkuns behaal deur die 800 m (1:44,40) en 1500 m (3:13,47) op die baan af te jaag en het ook puik oorwinnings behaal in die 6,6-km-tydtoets (14:25,10) en 13,2-km-padwedren (30:13,85).
Nog ‘n onderskeiding is na Gouws se kant toe geslinger toe hy, en tereg ook so, aangewys is om die streekstrofee vir die Vrystaat se oorwinning by genoemde kampioenskappe in ontvangs te neem. – RUFUS BOTHA