Mostert, Christians en Lochner verlore vir Crinums

0
1705
Karla Mostert FOTO: FRIKKIE KAPP / SASPA

Dit het nie as reuse-verrassing gekom toe die op-en-wakker kaptein van die Proteas en Vrystaat Crinums netbalspan, Maryke Holtzhausen, se naam op die Crinums se facebookblad verskyn het as een van die 30 spelers wat ingesluit is in die Crinums se hoëprestasiegroep nie.

Proewe is Saterdag by die FSSSI (Free State Sports Science Institute) afgehandel om die genoemde groep van 30 te kies. Die 15-tal wat die Crinums vanjaar by die Brutal Fruit Premierliga sal verteenwoordig is almal in die 30-tal ingesluit en sal eersdaags bekend gemaak word. Holtzhausen, wat die Proteas reeds 62 keer verteenwoordig het, sal heel waarskynlik weer die Crinums aanvoer.

Die Crinums gaan vir seker vanjaar die afwesigheid van drie van sy voorste spelers, Karla Mostert, Lauren-Lee Christians en Danelle Lochner voel. Mostert speel tans netbal in Australië en keer eers in Junie terug Suid-Afrika toe. Christians het verhuis na Oos-Londen. Sy gaan heel waarskynlik vir die Oostelike Provinsie Aloes uitdraf, terwyl Lochner haar op die oomblik in Kaapstad bevind.

Maar, die gesoute afrigter van die Crinums, Burta de Kock, gaan vir seker nie in sak en as sit sonder Mostert, Christians en Lochner nie. Daarvoor is daar te veel skitterende opkomende sterre en deurwinterde spelers in die genoemde 30-tal. En, De Kock het verlede jaar met dieselfde tameletjie gesit en dit oorkom toe die voormalige Proteas-verdediger, Adele Niemand, aangesluit het by die Southern Stings en die kookwater Ané Botha die Crinums verruil het vir die Jaguars.

Onder De Kock het die Crinums verlede jaar die derde keer in die drie jaar bestaan van die Brutal Fruit Premierliga die trofee as kampioene omhoog gehou en al drie keer het hulle met die einste Jaguars afgereken in die eindstryd. Die Crinums het verlede jaar se eindstryd met 52 – 43 beklink.

Die Crinums se hoëprestasiegroep volgens dié span se facebookblad is: Anè Retief, Rykie Venter, Bethenie du Raan, Deniélle van der Merwe, Marna Claassens, Martinique Ferreira, Rieze Straeuli, Maryke Coetzee, Alicia Puren, Maryka Holtzhausen, Tanya Mostert, Francis Hurling, Lefébre Rademan, Mariska Pieters, Khanyisa Chawane, Gertriana Retief, Portia Skete, Megan Roux, Nam Mbele, Nonhanthla Sikhakhane, Luscha Pienaar, Dané Klopper, Deidrè Fourie, Sue Moletshe, Gené Manuel, Petro Coetzee, Nonthando Khumalo, Malinda Qaqane, Khomotso Mamburu en Jana Scholtz. – RUFUS BOTHA