Mosehle word ‘n Vrystater

0
50
Mangaliso Mosehle speel 'n veeghou teen Sri Lanka in een van sy sewe T20 Internasionale-wedstryde vir Suid-Afrika. FOTO: CRICINFO/ GETTY

Die Vrystaatspan vir die 2021/22- plaaslike krieketseisoen is reeds gekontrakteer. Daar is heelwat nuwe gesigte, terwyl die naam van ‘n groot speler ontbreek.
Van aanstaande seisoen af sal daar nie meer franchise-krieket in Suid-Afrika gespeel word nie, en in plek daarvan word daar teruggekeer na die ou dae met die fokus op provinsiale krieket.

Die Knights-span was uit spelers uit die Vrystaat en Noord-Kaap saamgestel, en die Vrystaat Krieketunie het daarin geslaag om die meeste van dié Knights-spelers te behou.
Die grootste speler wat nie meer in die Vrystaat sal speel nie, is die draaibalbouler, Shaun von Berg, vir wie daar nie ‘n kontrak aangebied is nie. Die 34-jarige speler, wat tydens die afgelope seisoen die meeste paaltjies vir die Knights platgetrek het asook die tweede meeste in die land, gaan nou vir ‘n sterk Boland-span speel.

Die Vrystaat het egter die oud-Protea-paaltjiewagter en kolwer, Mangaliso Mosehle, wat vir die Dolphins gespeel het, gekontrakteer. Moseshle was ‘n paar weke gelede nog deel van die Dolphins toe hulle die Titans getroef het in die eindstryd van KSA se Vierdagreeks.
Moseshle, wat voorheen in sewe T20- internasionale wedstryde vir die Proteas gespeel het, het aan Bloemfontein Courant bevestig dat die Rosestad sy nuwe tuiste sal wees.

“Oor die laaste paar jaar was daar vele hoogtepunte en ook laagtepunte in my loopbaan. Vir my is die belangrikste van my verhuising na die Vrystaat om my ondervinding te gebruik om ‘n goeie struktuur in plek te stel, van die jonger spelers te help, en te versker dat die span sy volle potensiaal bereik.”

Vrystaat-groep vir 2021-22: Pite van Biljon (kaptein), Jacques Snyman, Matthew Kleinveldt, Raynard van Tonder, Farhaan Behardien, Patrick Kruger, Patrick Botha, Wandile Makwetu, Mangaliso Mosehle, Gerald Coetzee, Migael Pretorius, Gregory Mahlokwana, Mbulelo Budaza, Alfred Mothoa, Nealan van Heerden en Dilivio Ridgaard. – MORGAN PIEK