
Die veerkragtige mannetjie van die Laerskool Fichardtpark in Bloemfontein, Janco Mollentze, het Saterdag op die Vrystaat-laerskole-atletiekkampioenskap in Bloemfontein met die beste vertoning van dié byeenkoms ontplof. Hy het in sy opmars met pogings na groter hoogtes die toeskouers in doodse stilte op die voorpunt van hul stoele gehad om te sien wat hierdie groot talent met sy volgende sprong in die hoogspring vir seuns 13 jaar gaan vermag.
Na elke susksesvolle sprong was die toeskouers, vriend en vyand inkluis, agter die beskeie Mollentze en het met ‘n groot gejuig die stilte versteur wat voor elke sprong geheers het, toe hy op elke hoogte grasieus oor die dwarslat geseil het.
Met al sy teenstanders reeds uitgeskakel, was dit Mollentze wat gevra het dat die dwarslat opgeskuif word na 1,70 m. En, weer eens is hy met groot gerief oor dié hoogte. Dié sprong het die SA rekordklokkies reeds laat begin lui en toeskouers laat wonder of Mollentze nie dalk naby die SA rekord van 1,74 m kan draai nie. Genoemde SA rekord vergader reeds stof vir 18 jaar op die rekordboeke agter die naam van L. Rautenbach (Noordwes) wat in 2000 losgespring is.
Mollentze besluit toe om die dwarslat te lig na 1:72 m, slegs twee sentimeter kort van die 1,74 m SA rekord en slaag hier ook gerieflik, tot groot vermaak van die toeskouers. Toe gebeur dit. Die dwarslat word opgeskuif na 1,76 m, twee sentimeter hoër as die 18 jaar oue SA rekord. Met doodse stilte in die Mangaungstadion, val Mollentze die dwarslat aan met ‘n positiewe aanloop en seil sierlik oor. Die nuwe SA rekord behoort nou aan Mollentze.
Hy het weliswaar op 1,78 m gepoog om te slaag, maar was onsuksesvol.
Mollentze, wat nie slegs oor baie veerkrag beskik nie, moes toe reeds begin dink het aan die 100 m-eindronde wat oor ‘n paar minute op sy agenda sou wees. Hy het in die uitdunne so goed vertoon dat hy ‘n Vrystaatrekord in 11,57 afgeblits en as gunsteling vir die 100 m in die blokke gesakhet.
Dit is nie aldag dat jy ‘n veerkragtige hoogspringer sien wat boonop blitsig is in naellope nie. Twee van sy teenstanders in die 100 m, Limpho Mpopo (St Andrew’s, 11,76) en Qwyd Koen (Grey, 11,83) het ook in die uitdunne van die 100 m korte mette gemaak van die bestaande Vrystaat-skolerekord.
Dié drie manne was in die eindronde kop aan kop, tot sowat 40 m van die eindstreep af, en
van hier af was dit eenrigtingverkeer vir Mollentze. Hy wen in 12,06 en is gevolg deur Mpopo (12,21) en Koen (12,26).
Mollentze was egter nie klaar met sy besige byeenkoms nie en het die manne ook in die verspring die stryd aangesê. Hy moes egter met die silwermedalje (5,71) tevrede wees nadat die einste Koen (5,94) hom geklop het. – RUFUS BOTHA